News

Ansumé laat nog ‘n paalspringrekord kantel

Sy hou tans die o20 Afrika en Suid-Afrikaanse rekord vir vroue en spog ook tans met die beste hoogte vir die jaar vir alle ouderdomme oor die hele Afrika.

SASOLBURG – Die talentvolle Ansumé de Beer van Boland Atletiek het in Maart tydens die SA Ouder­domsgroepkampioenskap in Germiston geskiedenis gemaak toe sy met ‘n sprong van 4.18 m die SA o20-paalspringrekord verbeter het.

Dit was ‘n 22 jaar oue rekord wat sy laat kantel het en ‘n nuwe rekordhoogte van 4.18 m agter haar naam geskryf het.

Maar dit was net die begin van die nuwe hoogtes hierdie seisoen. Ansumé het daarna voortgebou en voorberei vir die ASA Senior Kampioenskappe.

Sy het die keer haar eie rekord in die slag laat bly en met ‘n goue medalje en nuwe rekordhoogte van 4.20m huistoe gekeer.

Danksy die pragtige prestasies was Ansumé ook by die Suid-Afrikaanse atletiekspan ingesluit wat van 12 tot 17 Mei in Accra, Ghana aan die CAA Senior Afrika-kampioenskappe deelgeneem het.

Maar om daar te kon deelneem het sy eie uitdagings vir die jong paalspringer ingehou.

“Dit is altyd ‘n groot mission om hulle massiewe containers te cargo en betyds in Afrika te kry. Eers sou die pale saam met hulle gevlieg het nadat alles gereel was, maar toe op die lughawe op die nag van die 11 Mei, besluit die lugdiens dat die pale nie meer mag saam vlieg nie,” vertel Ansumé se ma, Angelique.

(Ansumé woon tans in Stellenbosch en haar ouers steeds in Sasolburg).

“Na baie baklei vlieg die drie paalspringatlete sonder hul pale Ghana toe. Ek en my man sit toe op die lughawe met drie paalspring containers wat saam 66 kg weeg en waarvan die langste een 5.2 m is.”

“Ons het na baie gebid, gesmeek en gesukkel, maar kon daarin geslaag om dit Maandagoggend met SAA per cargo te stuur. Die pale het 15:00 in Ghana geland.

“Daarna het coach Louis Nienaber drie dae lank gesukkel om die pale uit customs te kry en moes ‘n R78 000 holding deposito betaal – in kontant. Wat ons hopelik gaan terug kry,” vertel Angelique.

Ansumé de Beer en coach Louis Nienaber van wie sy net met die grootste lof praat.

Ansumé sou die 13de deelgeneem het, maar na baie gesmeek is die item na die volgende dag verskuif sodat sy die pale betyds kon kry.

Die pale is die 14de om 12:00 vrygestel en die item kon voortgaan. Vyf atlete het in dié afdeling meegeding (twee van Egipte, een van Namibië, een van Tunesië en Ansumé van SA).

Tussen al die gesukkel was Ansumé steeds gefokus en gemotiveerd om haar eie rekord te verbeter, asook haar persoonlike beste wat huidiglik 4.30 m is. Sy het natuurlik daarin geslaag.

Ansumé spog nou met drie CAA kampioenskap titels agter haar naam:
2023 – o18 – Zambië
2025 – o20 – Nigerië
2026 – seniors – Ghana

Ansumé maak nou gereed om in Europa en die VSA te gaan deelneem. Foto: Verskaf

Haar agent, Henk Botha van Botha Sports Agency, is nou besig om reëlings te tref sodat Ansumé en haar coach in Europa kan gaan toer waar sy onder meer in België en Switserland sal deelneem.

Sy behoort teen 1 Julie terug te wees, waarna sy gereed sal maak vir die Junior Wêreldkampioenskappe in Oregon, in die VSA wat van 4 tot 9 Augustus plaasvind. Daar sal sy teen die hele wêreld se beste o20-paalspringers te staan kom.

Asumé is gereed vir die uitdagings wat voorlê.

“Ek kon nie vir ‘n beter coach as oom Louis gevra het nie. Hy is so amazing, ek waardeer al sy moeite met die pale en opofferings.

“Ek waardeer dit uit my hart dat hy saam met my na Europa en die VSA gaan, sy kennis en ondersteuning het ‘n groot bydrae tot my suskes.

“Ek wil huil van dankbaarheid oor coach Louis en my ouers se ondersteuning. Dankie dat julle my droom saam met my uitleef,” is Ansumé se boodskap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button