Vaal se krane tot 50 uur droog
ELM gaan glo volledige skedule verskaf vir die wateronderbreking wat die einde van die maand gaan plaasvind.

VANDERBIJLPARK – Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het ’n beplande 50-uur Rand Water-instandhoudingsonderbreking aangekondig wat inwoners in verskeie gebiede vanaf Vrydag, 29 Mei tot Sondag, 31Mei sal beïnvloed.
Watervoorsiening aan verbruikers in Powerville Park, Sharpeville, dele van Tshepiso, Bedworthpark, Boipatong, Vanderbijlpark, Bophelong, Bophelong Uitbreidings, Bonanne en omliggende erwe sal tydens hierdie tydperk onderbreek word om die toekomstige betroubaarheid en doeltreffendheid van die Rand Water-stelsel te verbeter.
Inwoners wat deur die Sharpeville- en Bedworthpark-meters voorsien word, kan lae druk of ’n volledige wateronderbreking ervaar. Watertenks sal in die geaffekteerde gebiede ontplooi word, en ’n volledige skedule sal later bekendgemaak word.
Sommige dele van Vanderbijlpark wat deur die plaaslike reservoir voorsien word, sal minder geraak word, maar verbruikers wat steeds toegang tot water het, word aangeraai om dit spaarsamig te gebruik om uitputting te voorkom.
Die munisipaliteit sal gereelde opdaterings tydens die onderbreking verskaf. Vir hulp kan inwoners die Metsi-a-Lekoa-dienssentrum kontak by 016 065 0030/0031/0035.
