Vandale rig skade aan padtekens in Drie Riviere en Risiville aan
Die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum het ‘n beroep op inwoners met geslotekring-televisiekameras gedoen om beeldmateriaal na te gaan nadat talle padtekens glo gedurende die naweek beskadig is.
VEREENIGING – Talle vierrigtingstoppe in Drie Riviere en Risiville is glo gedurende die naweek gevandaliseer en omgebuig, wat nou veiligheidsrisiko by verskeie kruisings skep.
Volgens die Sektor 2-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is verskeie padtekens langs Ringweg, vanaf Generaal Hertzogweg tot by Blackwoodstraat en Risiville, beskadig.
Die GPF het inwoners met CCTV-kameras gevra om beeldmateriaal tussen Vrydagaand en Saterdagoggend na te gaan vir enigiets verdags.
Dit voorkom asof ’n voertuig moontlik gebruik is om sommige van die pale om te buig.
“Enige beeldmateriaal, voertuigregistrasies of tydstempels kan help om die verantwoordelikes op te spoor en by SAPD aan te meld,” lui die verklaring.
Dalene Venter, die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se wyksraadslid vir Drie Riviere, het aan Vaalweekblad gesê inwoners het gedurende Vrydagaand en Saterdagaand verskeie klagtes aangemeld oor harde geluide wat soos motorfietse geklink het wat bande spin.
Volgens Venter wil dit voorkom asof ’n voertuig moontlik gebruik is om sommige van die pale om te buig.
Sy sê talle van die vierrigtingstoppe is stewig met betonblokke in die grond geanker, wat dit moeilik maak om weer op te lig.
Die stadsraad het glo tans nie die begroting om die beskadigde tekens te vervang nie, waarna Venter met haar wykkomitee begin beraadslaag het oor moontlike maniere om die tekens tydelik regop te kry.
Venter het ook kommer uitgespreek oor wat sy beskryf as ’n toename in misdaad in die gebied, wat volgens haar wissel van die vandalisering van padtekens tot die diefstal van hekmotors.
Die CPF het intussen bevestig dat patrollies in die gebied verskerp gaan word.
