Lion Jay se ster brand helder
Lion Jay is gelukkig. Met sy nuwe bruid aan sy sy pak hy elke dag met durf en oorgawe aan, ten spyte van pyn en kankerbehandeling.
VEREENIGING – Leon en Elmarie Jacobs beskryf hul troudag op 9 Mei as ʼn wonderlike dag en spesiale ervaring. Leon, bekend onder sy verhoognaam Lion Jay, erken hy was bietjie benoud voor die groot dag.
Nie om die knoop deur te hak nie, daaroor was hy baie dankbaar en opgewonde, maar omdat hy die Donderdag nog chemoterapie ondergaan het.
Hy was benoud hy sou nie sterk genoeg wees vir die groot oomblik nie, maar hy het homself verbaas en alles het goed gegaan.

Hy is vroeër vanjaar met Mantelsellimfoom (MCL) gediagnoseer is. Die kanker het na sy beenmurg versprei. Hierdie week is hy weer in die hospitaal vir verdere chemoterapie en in die nabye toekoms wag daar ʼn stamseloorplanting.
“Ek het dae wat ok is, ander dae pyn my bene en arms. Pyn alles binne my. Ek is ʼn ou man,” sug hy. Elmarie stem nie saam met die ou man gedeelte nie. “Ou man? Dis dieselfde man wat op ons wittebrood perd gery het en ʼn canopy tour in die Drakensberge gedoen het,” lag sy.
Die twee is duidelik versot op mekaar en baie gelukkig. Hulle maak die beste van elke dag en koester elke oomblik saam.

Leon laat ook nie sy sangloopbaan agterweë bly nie. Hy het onlangs by die Lance James Country Festval opgetree en Sondag het hy by die Afridome Countryfees gesing.
Two old Boys, die enkelsnit wat hy saam met Alan Garrity opgeneem het boer ook op verskeie trefferparades en is al amper 87 000 keer op Spotify geluister. Een van sy ander groot treffers At 50 Years, raak aan 197 000.
Gaan volg hom gerus op Spotify by Lion Jay Artist.
