Bulla gered, maar benodig maandeliks medikasie
VANDERBIJLPARK - Bulla, 'n ongeveer vyf jaar oue pitbull, het in 2024 in 'n hartverskeurende toestand by Vaalpets beland.
Nou is die pragtige bruin en wit Pittie een van die skuiling se geliefde inwoners.
“Toe Bulla gered is, het hy vreeslik gely aan ’n ernstige veltoestand wat konstante jeuk veroorsaak het.
“Hy was vasgebind in ’n plek sonder gras, net sement. In sy wanhoop het hy homself teen die harde oppervlak gekrap totdat sy wange en kop rou en bloederig was.
“Die meeste van sy hare was weg, en dit was werklik hartseer om te sien,” vertel Andey Wrigley, woordvoerder van Vaalpets.
Danksy die toewyding van Dr. Christa van Animaland en die liefde en sorg wat hy by die skuiling ontvang het, het Bulla se herstelreis begin.
Hy is behandel met antibiotika en medikasie om sy veltoestand te beheer, wat dus ook sy lewenskwaliteit verbeter het.
Dit gaan nou na maande se liefde en sorg baie beter met Bulla, maar sy stryd is nog nie verby nie.
Alhoewel sy toestand onder beheer is, benodig hy steeds deurlopende behandeling om hom gemaklik en gesond te hou.

Hy ontvang tans Apoquel vir jeuk, sowel as Cyclavance, Cortavance en vitamienaanvullings om sy pels te verbeter en veluitbrake en knoppe te voorkom.
Bulla se mediaksie beloop sowat R2 000 per maand, wat ’n groot finansiële uitgawe vir Vaalpets is.
“Ten spyte van alles wat hy deurgemaak het, bly Bulla ’n saggeaarde, lewenslustige hond wat vir ons baie vreugde bring. Sy verhaal herinner ons waarom reddingswerk saak maak en hoe elke donasie of borgskap ’n lewe kan verander,” sê Andey.
Indien daar enige barhartige Samaritane is wat met Bulla se mediese onkostes kan help, sal dit Vaalpets ondersteun om voort te gaan om hom die beste moontlike sorg te bied.
Vir meer inligting kan Vaalpets op Facebook, of Andey per e-pos by andey1@vaalpets.co.za gekontak word.
