Alex (64) se lewe verander in ‘n oogwink
Klein Bar Pub en die Gypsy Jokers-motorfietsklub hou op Saterdag, 11 Julie, 'n spesiale fondsinsameling, en dit sal waardeer word as die gemeenskap dit ondersteun.
VANDERBIJLPARK – ‘n Jarelange inwoner se lewe is onlangs in ‘n oogwink onherroeplik verander toe hy deur ’n massiewe beroerte getref is.
Alex Meintjies (64) is wel in Durban gebore, maar is sedert die ouderdom van sewe ‘n volbloed-Vanderbijlparker.
Hy het sy skoolloopbaan aan die HTS Carel de Wet voltooi, waarna hy by die destydse Yskor begin werk het. Tot voor die voorval was hy werksaam by Vaal Cleaning.
Alex is wyd geliefd onder sy vriende en die gemeenskap danksy sy omgee-hart. Hy het ‘n groot sagte plek vir diere, veral honde, en is die soort mens wat altyd dadelik sal help waar daar ‘n behoefte is.
Oor die jare het hy talle mense, kinders en kinderhuise onbaatsugtig ondersteun.
Nou het Alex egter self die gemeenskap se hulp nodig. Alex het op 3 Junie ‘n beroerte by sy huis gehad wat bloeding op sy breinstam veroorsaak het.
Hy is daarna na die Netcare N17-hospitaal in Springs oorgeplaas om die bloeding te dreineer, waar sy toestand as kritiek beskryf is.
Hy word tans reeds vir drie weke in die intensiewesorgeenheid behandel.
Hoewel sy spraak gelukkig nie aangetas is nie, is sy visie baie wasig. Die regterkant van sy liggaam funksioneer goed, maar hy het tans geen mobiliteit aan sy linkerkant nie.

Alex staar nou ‘n lang pad van herstel in die gesig waar hy weer sal moet leer loop en self eet.
Om hom in hierdie moeilike tyd te ondersteun, span Klein Bar Pub en die Gypsy Jokers-motorfietsklub op Saterdag, 11 Julie, saam vir ‘n spesiale fondsinsameling.
Die doel is om geld in te samel vir Alex se intensiewe nasorg, wat sowat R70 000 vir vyf weke sal beloop.
Die geleentheid vind plaas by Klein Bar, Bogartstraat 1, CE2, Vanderbijlpark, en skop om 10:00 af. Toegang is R60 per persoon, en die volle opbrengs sal aan Alex geskenk word.
Die gemeenskap word gevra om hierdie waardige poging te ondersteun.