‘n Dekade van en vir liefdadigheid
Dis meer as 'n winkel, dis 'n liefdadigheidsprojek en 'n seën vir almal wat betrokke is.
VANDERBIJLPARK – Die winkel is nie baie groot nie, maar gevul met enigiets van klere tot by ou blikke. Natuurlik is daar boeke, CD’s en DVD’s ook. Alles spotgoedkoop. Voorwaar ʼn winkeltjie met verskuilde skatte.
Die naam is gepas, Hidden Treasure Charity Shop. Die winkeltjie in Helena Lochnerstraat bestaan al 10 jaar. Rustige Christelike musiek speel in die agtergrond en agter die toonbank staan vele bokse met donasies wat nog uitgesorteer moet word.
Alle geld wat uit die verkope gemaak word, word geskenk aan ʼn landelike kinderhuis. Teen die muur is ʼn groot plakkaat met die woorde From Dust to Desks.
In 10 jaar het die winkel gehelp sodat die kinders ʼn geboude skool kon kry, waar hul eers in ou hoenderhokke met seil oor gesit het.
Die winkel is deel van die Baptist Women’s Departement South Africa. Hidden Treasure liefdadigheidswinkels is in verskeie dorpe in die land en het elkeen ʼn ander groep waarvoor hul geld insamel.
Die winkel word beman deur vrywilligers wat beurte maak om skoon te maak, reg te pak en sorteer werk te doen.
Carla de Beer sê sy is al daar vandat die winkel oopgemaak het. Selfs deur die Covid-pandemie het hul na die twee maande van inperking, oopgebly en kon hul ʼn verskil maak.
Die goedere wat verkoop word, is drasties afgemerk en alles is skoon en netjies. Mense dwaal gereeld in die winkel rond opsoek na iets spesiaals.
Vir ander is die winkel die enigste plek waar hul dit kan bekostig om klere, skoene en selfs skryfbehoeftes te kry.
Carla sê hulle het gereelde kliënte. Mense wat inkom om te koop, maar ander wat net kom kyk of gesels. Skenkings is altyd welkom. Hulle sal enigiets waardeer, van klere tot by speelgoed. Kontak hul gerus op 079 199 7234.