Grenshoue en paaltjies vir Hoekies op kriekettoer
Hoërskool Driehoek se o15-krieketspan het hul toer met spoed begin en drie agtereenvolgende oorwinnings behaal.
VANDERBIJLPARK – Hoërskool Driehoek se o15-krieketspan is op toer en tot dusver maak hul korte mette met hul teenstanders.
Oor die naweek het die Hoekies hul toer afgeskop met ʼn 9-paaltjie oorwinning teen Hoërskool Centurion. Keegen van Aswegen het slegs 15 balle nodig gehad om sy 39* aan te teken.

Op Dag 2 van hul toer het die Hoekies met Hoërskool Klerksdorp afgereken en die wedstryd met 158 lopies gewen.
Keegen is aangewys as die speler van die wedstryd nadat hy 137 lopies van 127 balle aangeteken het.
Maandag het die span voortgebou op hul goeie vertoning en Hoërskool Fochville met 184 lopies gewen.

Divan Dreyer het 50 behaal van slegs 48 balle. Jano Muller se boulaanval het sy teenstanders ore aangesit. Hy het 5 paaltjies geneem en net 15 lopies afgestaan in 4.1 boulbeurte.

