News

Donjuan kondig terugkeer na kryt aan

Donjuan van Heerden is terug en hy mik hoër as ooit.

MEYERTON – Nadat dit vroeër vanjaar gelyk het of die voormalige ABU-middelgewigkampioen, Donjuan van Heerden, moontlik sy bokshandskoene tydelik sou ophang, het hy vroeër vandeesweek in ’n nuwe wending aangekondig dat hy weer aktief na die kryt terugkeer.

Hy het bevestig dat dit nie net vir ’n eenmalige geveg sal wees nie, maar vir ’n nuwe fase in sy boksloopbaan.

Van Heerden sal op 2 Augustus weer in aksie wees wanneer hy teen die Kongo se Jackson Masamba in Lonehill, Sandton, te staan kom.

Boonop het Van Heerden aangedui dat hy reeds ’n volgende geveg vir 29 Augustus in die vooruitsig het indien hy sy komende geveg suksesvol afhandel.

Volgens hom is hy terug met ’n nuwe span, nuwe bestuurder en nuwe afrigter, en voel hy meer gemotiveerd as ooit. “Ja, ek is amptelik terug in die kryt, en dit is beslis nie net ’n eenmalige geveg nie,” het Van Heerden gesê.

“Ek is terug met ’n nuwe span, nuwe bestuurder en ’n nuwe afrigter. Ek is meer gemotiveerd as ooit en sien uit na wat die toekoms inhou.”

Hy het bygevoeg dat sy tyd weg van die sport hom nie laat afsien het van boks nie, maar eerder sy honger versterk het.

“Ek het besef boks is waar ek hoort. Ek voel ek het nog baie om te bewys en te bereik.”

Van Heerden sê die komende geveg verteenwoordig vir hom ’n nuwe begin en ’n kans om weer sy waarde in die kryt te bewys.

“Dit is ’n kans om weer te bewys waartoe ek in staat is en om te wys dat ek nog lank nie klaar is met boks nie. Ek stap met ’n nuwe ingesteldheid die kryt binne. Ek glo die beste van my loopbaan lê nog voor.”

Hy het ook bevestig dat sy voorbereiding goed verloop en dat hy fisies sterk en gesond voel, met die grootste verandering wat sy skuif na ’n nuwe gewigklas is.

“Die grootste verskil dié keer is dat ek in ’n nuwe gewigklas veg, so ek hoef nie meer 14 tot 15 kg af te skud om gewig te maak nie,” het hy gesê.

Volgens Van Heerden beteken die skuif dat hy sy fokus kan verskuif van gewigsverlies na prestasie in die kryt.

“Dit beteken ek kan my energie daarop fokus om ’n beter bokser te wees, eerder as om net die skaal te oorleef. Ek glo die skuif na ligswaargewig gaan die beste weergawe van my na vore bring.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button