Nasionale Tesourie klap sy beursie toe vir 69 munisipaliteite
Dit raak natuurlik die Vaal omdat Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, Lesedi Plaaslike Munisipaliteit en Sedibeng Distriks-munisipaliteit onder die 69 tel.

Die Nasionale Tesourie het die Julie 2026-oordragte van die billike aandeel (equitable share) aan 69 munisipaliteite regoor die land tydelik teruggehou, insluitend die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (Heidelberg) en Sedibeng Distriks-munisipaliteit.
Die Nasionale Tesourie voer aan die rede hieroor is die voortdurende en ernstige nienakoming van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (WMFB / MFMA).
Die drastiese stap is daarop gerig om dissipline en die behoorlike bestuur van openbare fondse in te skerp en om munisipale amptenare en ampsdraers aanspreeklik te hou.
Die Nasionale Tesourie meen die weerhou van oordragte sal nie impak op dienslewering inhou nie, aangesien die fondse vir ’n kort tydperk teruggehou sal word.
Voor die terughouding van die fondse het die Tesourie omsendbriewe aan die munisipalteite gestuur oor die nakoming van vereistes.
Baie munisipaliteite versuim egter steeds om te voldoen aan die bepalings van die WMFB en sy stawende regulasies rakende die aanvaarding van begrotings en die hantering daarvan.
Die Tesourie meld dat nienakoming van die vereistes, die finansiële volhoubaarheid van grootmaatverskaffers, soos Randwater en Eskom kan bedreig.
Die oordragte sal weer hervat word sodra die geaffekteerde munisipaliteite aan die vereiste voorwaardes voldoen en behoorlike bewys van nakoming indien.
Die Nasionale Tesourie herbevestig sy verbintenis om nou saam met munisipaliteite, provinsiale tesourieë en samewerkende herregeringstrukture te werk om gesonde finansiële bestuur te versterk.