News

Watse salaris moet jy verdien om ‘n ‘goeie’ lewe te kan lei?

Die lewensloon verwys na 'n salaris voordat byvoordele bygevoeg of aftrekkings gemaak word. Moet dit nie met die minimum loon verwar nie.

Hier is die harde waarheid! Suid-Afrikaners behoort minstens R20 000 per maand vir ‘n 40-uur-werkweek huis toe te neem as hulle ‘n ordentlike, dog beskeie, lewensstandaard en ‘n vlak van waardigheid wil bereik.

Hierdie nuutste lewensloonsyfer is aangekondig deur die Living Wage South Africa Network (LWSAN), ‘n geregistreerde niewinsgewende organisasie wat die veldtog lei om hierdie konsep plaaslik te implementeer.

“Ons moedig ondernemings en staatsentiteite aan om hierdie lewensloon vrywillig te aanvaar as ‘n saak van menslikheid en sosiale volhoubaarheid,” sê professor Ines Meyer, voorsitter van die LWSAN.

Hoe die 2026-lewensloon bepaal is

Meyer, ‘n kenner in organisatoriese sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad, sê ‘n studie onder 2 000 deelnemers het ‘n lewenskostereeks aan die lig gebring waaruit die 2026-lewensloon ontwikkel is.

Die gemiddelde respondent met ‘n netto salaris van minder as R14 000 kon nie ‘n ordentlike lewe lei nie, terwyl almal met ‘n netto salaris van meer as R25 000 dit wel tot ‘n sekere mate kon doen.

“Ons het op die middelpunt van R20 000 besluit omdat dit die vier hoofkriteria waaraan ‘n lewensloon op nasionale vlak moet voldoen, voldoende bevredig,” sê sy.

Dit is die punt waar dit vir verdieners moontlik begin word om:

die lewe te lei wat hulle waardevol ag;

iets vir die toekoms te spaar;

voorbereid te wees op onvoorsiene noodgevalle, soos onverwagte mediese koste; en

sodoende ‘n ordentlike lewensstandaard en menswaardigheid te geniet.

Lewensloon teenoor minimum loon

Die lewensloon verskil wesenlik van die wetlik voorgeskrewe minimum loon, wat die gevolg is van onderhandelinge tussen die regering, die sakesektor, bedryfskenners en vakbonde.

Terwyl die minimum loon verpligtend is, is die lewensloon suiwer vrywillig.

“Ons glo dat organisasies wat dit vrywillig aanvaar, dit as ‘n belegging sal beskou om te verhoed dat mense in armoede vasgevang bly, eerder as ‘n teësinnige administratiewe verpligting,” sê sy.

Waar sal die geld vandaan kom?

Met die eerste oogopslag mag dit lyk of die aanvaarding van hierdie konsep ‘n groot uitgawe vir organisasies sal wees, veral dié wat baie afhanklik is van handearbeid.

Suid-Afrika gaan gebuk onder lae ekonomiese groei en sosiale onstabiliteit wat voortspruit uit die knellende armoede waaronder baie van sy burgers ly.

“Wanneer mense minstens die lewensloon verdien, kan hulle meer geld bestee aan behoeftes wat voorheen onvervuld gebly het. Dit skep ‘n groter vraag na produksie en arbeid, wat weer meer werkgeleenthede skep, ensovoorts,” verduidelik Meyer.

“As mense genoeg verdien om nie oor geld te stres nie, word hulle ook produktiewer werknemers. Dit is ‘n belegging eerder as ‘n koste vir die onderneming.”

Sosiaal-verantwoordelike aandeelhouer

Baie private beleggers gebruik nou hul aandeelbesit om druk op maatskappye uit te oefen om verantwoordelik en volhoubaar op te tree teenoor hul verpligtinge jeens die samelewing, die planeet en inklusiewe welvaart.

“Hierdie nuwe generasie aandeelhouers belê met die doel om die status quo uit te daag en betekenisvolle verandering teweeg te bring, en hulle is die ideale ambassadeurs vir die lewensloon,” sê Meyer.

‘n Grondwetlike saak

Artikel 10 van die Grondwet van Suid-Afrika bepaal: “Elkeen het ingebore waardigheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word.”

“Ons moet ophou om die Grondwet as bloot ‘n regsdokument te sien, maar eerder as ‘n oproep tot aksie wat ons motiveer om diegene vir wie dit geskryf is, op te hef. Die lewensloon bied daardie geleentheid,” sluit Meyer af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button