Die ‘Kwêvoël’ hou van musiek en lekker gesels
Quentin Venter is onlangs aangewys as die Beste DJ in die Vaal. Vaalweekblad het gaan uitvind hoekom is hy so gewild.
VANDERBIJLPARK – Kwêvoël, dis wat Quentin Venter se kollegas hom noem. “Dis omdat my naam anders gespel word,” lag hy.
Vir sy duisende aanhangers is hy die een wat weeksdae Op Kantoor op IFM 102.2 aanbied. By die radiostasie is hy nie net omroeper nie, maar ook assistent bestuurder.
Sy pad saam met die radiostasie kom van ver af. Sy pa, Cobus is al deel van die stasie sedert dit in 1994 begin het. Vir sy pa het Quentin baie respek en sê hy het baie by hom geleer.
Die boorling van Vanderbijlpark was in Laerskool Oospark en later in Hoërskool Vanderbijlpark. Musiek was nog altyd deel van Quentin se lewe.
Hy onthou sy heel eerste gig was saam met sy een neef by die skool se sokkie in 1996. “Ons het R20 vir die aand gekry en moes dit met mekaar deel.”
Sedertdien het sy DJ werk net gegroei en nou se dae is hy een van die Vaaldriehoek se gewildste manne om musiek by troues te speel en dan ook as seremoniemeester op te tree.
“In die begindae het ek landswyd musiek vir troues gedoen, maar nou doen ek dit net by Vintage Yard. Ek ken daardie venue al so goed, ek kan enigiets daar doen,” beduie hy.
Quentin is al 26 jaar deel van die lief en leed van IFM. Sy heel eerste tydgleuf was van middernag tot 03:00. Hy beskryf dit as rowwe tye. “Ek het nooit geweet of ek moet gaan slaap en of ek maar net wakker moet bly nie.”
Sowat 18 jaar gelede het hy aansoek gedoen vir ‘n bemarkingspos by die radiostasie en van daar af het dinge net beter gegaan.
Oor die jare het hy sterk bande gebou met van Suid-Afrika se grootste kunstenaars. In so ‘n mate dat van hulle hom nou eerste nader om ‘n nuwe liedjie te speel.
“Vandag gesels en kuier ek lekker oor die radio met die musieksterre, maar destyds was dit erg. Ek onthou toe ek my eerste onderhoud met Steve Hofmeyr gehad het. Ek was baie senuweeagtig en het net gehoop hy sien nie hoe bewe my hande nie,” beduie hy oor ‘n bekertjie koffie.
Hy hou van sy koffie en is baie dankbaar vir die koffiemasjien in die studio, maar hy het ‘n probleem met die klein bekertjies. Nou maak hy twee koppies op ‘n slag om sy koffiebeker vol te hou.
Quentin het ‘n skerp sin vir humor en pak alles met oorgawe aan. “Gelukkig is ek nie meer so stout oor die lug soos toe ek jonk was nie. Ek het darem grootgeword,” lag hy lekker.
