
VANDERBIJLPARK – Wat as ‘n eenvoudige besoek begin het om haar voertuiglisensie te hernu het vir Lara Bouwer in ‘n nagmerrie ontaard nadat sy die slagoffer van ‘n vermeende slenter by die Vanderbijlparkse lisensiekantoor geword het.
Bouwer vertel sy het Maandag 13 Julie die lisensiekantoor besoek nadat sy vroeër by die poskantoor weggewys is weens ‘n kragonderbreking.
“Ek het juis ‘n punt daarvan gemaak om my handsak met beursie en foon in my kattebak toe te sluit. Ek het die gebou binnegestap met my dokumentasie en kontant (R600) in ‘n plastiek liasseersakkie,” vertel sy.
Volgens Bouwer het ‘n man haar by die ingang genader en gevra waarvoor sy daar is. Omdat personeel volgens haar nie uniforms of naamplaatjies dra nie, het sy aanvaar hy werk by die kantoor.
“Hy het my na ‘n toonbank baie naby aan die ingang vergesel, die afskrif van my ID gestempel met die lisensiekantoor se amptelike stempel en die wit vorm aan my gegee om in te vul,” sê sy.
Terwyl sy die vorm ingevul het, beweer Bouwer, het die man haar plastiek liasseersakkie met haar kontant onder haar arm uitgeruk en vinnig by die deur uitgehardloop.
“My eerste reaksie was om buitentoe te storm om te kyk of ek hom te siene kry, maar hy het verdwyn. Ek het die voorval aan twee werkers by die kantoor gerapporteer, maar hulle was van geen hulp nie,” vertel sy.
Sy sê sy het daarna self na die verdagte gesoek en selfs in die omgewing rondgery, maar sonder sukses. Uiteindelik moes sy aanvaar dat haar geld verlore is.
Bouwer beweer verder dat die feit dat die verdagte volgens haar toegang tot ‘n amptelike stempel en dokumentasie gehad het, asook die gebrek aan hulp ná die voorval, vrae laat ontstaan. Sy vermoed dat daar moontlik betrokkenheid van persone by die lisensiekantoor kan wees.
Vaalweekblad beklemtoon dat hierdie bewerings uitsluitlik deur Bouwer gemaak word en nie onafhanklik bevestig is nie.
Vaalweekblad het die Emfuleni-verkeersafdeling om kommentaar oor die voorval en Bouwer se bewerings genader, maar teen druktyd is geen terugvoering ontvang nie.