8 jaar se wag, ‘n terugslag, maar steeds hoopvol
Milo, ’n pragtige Pitbull-kruising by Vaalpets, se lewenspad is een wat jou hartsnare sal roer.
VANDERBIJLPARK – As een van nege kleintjies het Milo se lewe met ondenkbare verlies begin.
Die werpsel se ma is kort ná die geboorte dood, wat Milo en sy boeties en sussies wees gelaat het.
Die vrywilligers van Vaalpets het dadelik ingespring en die werpsel met die hand en hope liefde en toewyding grootgemaak.
Maar soos weke maande geword het, en maande uiteindelik jare, moes Milo toekyk hoe sy broers en susters een na die ander aangeneem word, maar hy was nie so gelukkig nie.
Agt lang jare het verloop voordat sy groot dag uiteindelik aangebreek het.
“Ons het gedink sy happily-ever-after het uiteindelik aangebreek,” vertel Andey Wrigley, ’n vrywilliger by Vaalpets.
Ongelukkig het die noodlot nog ’n uitdaging vir hom voorberei. In sy nuwe aannemingshuis is Milo deur ’n ander Pitbull aangeval, waarin hy ernstige beserings opgedoen het.
Vaalpets het weer dadelik ingespring om met sy veeartskoste en sorg te help.

Aanneming
Milo het intussen ten volle herstel en sy gees is ongebroke. Hy is nou weer gereed vir aanneming – gereed vir daardie spesiale mens wat hom die veilige, liefdevolle huis sal gee waarop hy al sy hele lewe lank wag.
“Indien aanneming nie vir jou moontlik is nie, oorweeg dit om ‘n vrywilliger te word. Gaan sit by een van die honde, lees ‘n boek. Praat saggies.
“Deel ‘n paar lekkernye. Jy mag dink jy verander sý lewe, maar hierdie ongelooflike honde het ‘n besondere manier om jóú lewe ook te verander,” sê Andey.
Belangstellendes kan Andey skakel by 079 140 3041. Vir die aanneem van enige honde kan Vaalpets se koördineerder gekontak word. Besoek gerus hul Facebookblad.