Duisende vuurwapens in smeltoond vernietig
Deur die wapens op die wyse te vernietig, verhoed dit dat dit ooit weer in kriminele sirkulasie beland.
VANDERBIJLPARK – Die SAPD het ’n ernstige slag teen misdaad geslaan met die amptelike vernietiging van 11 895 gekonfiskeerde vuurwapens.
Die wapens is in die massiewe smeltoonde van ArcelorMittal SA in Vanderbijlpark teen ’n temperatuur van 1526°C in vloeibare metaal omskep om te verhoed dat dit ooit weer in kriminele sirkulasie beland.
Onder die vernietigde wapens is 157 vuurwapens wat regstreeks met misdaad teen vroue en kinders verbind word.
Verder is 4 089 loskruitwapens (blank guns), windbukse en tuisgemaakte vuurwapens ook vernietig.
Hoewel hierdie tipe wapens dikwels minder dodelik beskou word as konvensionele vuurwapens, beklemtoon die polisie dat hulle gereeld gebruik word om ernstige misdade te pleeg en steeds lewensgevaarlik is.
Voordat die wapens in die oond beland het, is almal met werkende meganismes aan die geïntegreerde ballistiese identifikasiestelsel (IBIS) onderwerp.
Hierdie toetse is van kardinale belang om te bepaal of die betrokke wapens voorheen by onopgeloste misdaad gebruik is.
Volgens die polisie word daar tans weekliks sowat 100 onwettige vuurwapens landwyd gekonfiskeer danksy geteikende opsporingsoperasies, klopjagte en padblokkades.

Hoëvlak-teenwoordigheid
Die Adjunkminister van Polisie, dr. Polly Boshielo het die vernietigingsproses gelei. Sy is bygestaan deur senior SAPD-bestuurslede insluitend luitenant-generaal Maropeng Mamotheti (afdelingskommissaris van visuele polisiëring en operasies), generaal-majoor Nkhensani Mukwevho (Sedibeng-distrikskommissaris), brigadier Simon Bopape (hoof van vuurwapenvoldoening en -toepassing) en brigadier Nonhlanhla Sikhakhane (waarnemende komponenthoof vir vuurwapens, drank en tweedehandse goedere).
