Local newsNews

Dapper Danika sien uit na nuwe skool

Sy was in graad 1 toe sy met breinkanker gediagnoseer is, maar Danika van Tonder het nie laat dit haar onderkry nie.

MIDVAAL – Danika van Tonder was maar ses jaar oud toe sy in 2023 met breinkanker (medulla blastoma vlak 4) gediagnoseer is.

Sy het pas haar graadeen-jaar by die Laerskool Risiville begin toe die skokdiagnose gekom het. Danika was vir lank baie siek en die Vaaldriehoek het haar vordering met groot kommer, deernis en gebed dopgehou.

Danika (9) saam met haar boeties Dylan (13) en Divan (7 ). Foto verskaf: André van Tonder

Aan die begin van 2024 was die kanker in remissie en het sy weer graad een gedoen. Haar pa, André, sê Danika het op haar manier goed aangegaan in graad een en het selfs die trofee vir uitnemendheid aan die einde van 2024 ontvang.

Haar ouers en die skool het egter verlede jaar agtergekom dat sy begin sukkel. Soos haar pa sê: “Haar brein vat maar bietjie langer om goedjies te onthou en te herroep.” Sy het wel graad twee geslaag, maar hierdie jaar het sy meer gesukkel.

Gelukkig het sy nou plek gekry by Destinata Skool waar sy meer een-tot-eenaandag sal kry. Haar nuwe avontuur begin volgende kwartaal.

Sy sukkel nog met haar ogies en balans, maar sy probeer regtig hard en dit gaan goed met haar. Die kanker is steeds in remissie.

Danika van Tonder ontvang die trofee vir uitnemendheid aan die einde van haar Graad 1 jaar by die Laerskool Risiville. Foto verskaf André van Tonder

Danika was weer vir ‘n MRIskandering in Mei en November gaan sy vir haar driejaar opvolgbesoek en MRI-skandering by Baragwanath Hospitaal. Na die skandering moet die shunt in haar brein verstel word by die Nelson Mandela Kinderhospitaal.

Dit was ‘n moeilike paar jaar vir die Van Tonder-gesin. Hulle moes die afgelope agt maande afskeid neem van Christine (Danika se ma) se pa en einde Junie is André se ma oorlede.

André sê dit is soos om blare te hark en sodra die hoop hoog is en alles bymekaar is, dan kom die wind en waai alles weer deurmekaar. “Dan begin ons maar weer van voor af, dit is wat dit is. Maar God is goed vir ons.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button