Vaal-inwoners gewaarsku teen supermark-voedselbedrogspul
Valies moet kennis neem van 'n ou slenter wat weer afgestof word.

VANDERBIJLPARK – Inwoners van die Vaaldriehoek word aangemoedig om waaksaam te wees wanneer hulle buite supermarkte deur mense genader word wat vir kos in plaas van geld vra, nadat berigte van dié bedrogspul weer elders in Suid-Afrika opgeduik het.
Die bedrogspul, wat reeds in dele van die land, waaronder Johannesburg, Kaapstad en onlangs Strand in die Wes-Kaap aangemeld is, behels dat persone kopers vra om basiese kruideniersware eerder as kontant vir hulle te koop. Volgens berigte word die kruideniersware daarna glo na die winkel teruggeneem en vir kontant terugbetaal.
In een van die aangemelde voorvalle is ‘n koper en haar lewensmaat buite ‘n supermark deur ‘n man, wat as ‘n karwag gewerk het, genader.
Volgens die koper het die man gesê hy wil nie geld hê nie, maar slegs ‘n sak rys en twee blikkies vis by ‘n nabygeleë supermark hê.
Die paartjie het ingestem om te help. By die betaalpunt het hulle egter besef dat die kruideniersware ongeveer R300 kos.
Nadat hulle betaal het, het hulle na die winkel teruggekeer, waar die koper se lewensmaat na bewering gesien het hoe die man die kruideniersware teruggee en kontant daarvoor ontvang. Volgens die koper het die man kort daarna weer buite gestaan en dieselfde versoek aan ‘n ander paartjie gerig.
Die koper sê dit was toe dat hulle besef het die versoek om kos was na bewering deel van ‘n bedrogspul en nie ‘n opregte pleidooi om hulp nie.
Sy het verder gesê dat baie mense wat iemand in nood wil help, nie altyd mooi na die bedrag op die kaartmasjien kyk nie omdat hulle aanvaar die kruideniersware is goedkoop.
Toe die paartjie die winkeleienaar om ‘n terugbetaling vra, is hulle meegedeel dat daar geen bewys is dat ‘n bedrogspul plaasgevind het nie. Die man het na bewering ontken dat hy die kruideniersware teruggegee het en beweer dat hy dit reeds huis toe geneem het vir sy kinders.
Die voorval is ook by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld, maar die paartjie sê hulle is meegedeel dat dit nie onwettig is om wettig aangekoopte goedere aan ‘n winkel terug te besorg nie.
Hoewel daar tans geen bevestigde gevalle van dié spesifieke bedrogspul in die Vaaldriehoek aangemeld is nie, word plaaslike kopers aangeraai om versigtig te wees en altyd die bedrag op die kaartmasjien na te gaan voordat hulle betaal selfs wanneer hulle kruideniersware vir iemand koop wat om hulp vra.
Die SAPD het voorheen mense met ‘n omgeehart aangemoedig om eerder aan erkende welsynsorganisasies te skenk, aangesien dié organisasies kan help verseker dat skenkings vir hul bedoelde doel aangewend word.
Die polisie ontmoedig ook die publiek om geld direk aan straatbedelaars te gee.