Twee Ankerskool spanne speel in Valke Liga Finaal
Sterkte aan die skole wat mekaar die stryd aansê in môre se Valke LIga-eindstryde môre in Meyerton.
VANDERBIJLPARK – Vergewe maar as dit lyk asof die hoof en rugbyafrigters by Die Ankerskool breëbors rondloop.
Die skool se rugbyspanne het uitstekend gevaar en Die Ankerskool het as die nommer 1-skool in Afdeling 4 van die Valke Liga geëindig. Vier van hul vyf spanne het vir die halfeindrondte gekwalifiseer.
Die o.14’s het ongelukkig in die halfeindstryd met twee punte verloor, terwyl die Tweedespan teen HS Carel de Wet vasgeval het.

Die o.16’s is egter onoorwonne en speel 25 Julie in die finaal teen HS Carel de Wet, nadat hul Kempton Panorama met 62-12 in die halfeindstryd geklop het.

Die Eerstespan speel ook in die finaal môre teen HS Parys. Beide wedstryde vind by Hoërskool Dr. Malan in Meyerton plaas. Die o.16’s skop 11:00 af en die Eerstespanne sê mekaar die stryd aan om 13:30.

Die skool het gesê: “Ons is ongelooflik trots op al ons spelers, afrigters, bestuurders en ondersteuners wat hierdie suksesvolle rugbyseisoen moontlik gemaak het.
“Ons wens beide ons finalistespanne alle voorspoed toe en vertrou dat hulle die skool met dieselfde trots, passie en vasberadenheid sal verteenwoordig waarmee hulle die hele seisoen gespeel het.”
