Polisie ondersoek verdrinking van eenjarige by Mullerstuine
Die polisie ondersoek die tragiese dood van 'n eenjarige dogtertjie by Mullerstuine.
OPDATERING – 2026/07/31 -14:50
Regstelling: In ons berig oor die verdrinking van die eenjarige dogtertjie by Mullerstuine is die kind se naam verkeerdelik as Katrientjie Tolmay aangedui.
Haar korrekte naam is Katherine van Tonder.
Sy was ten tyde van die voorval in pleegsorg by die Tolmay-egpaar.
Die naam “Katrientjie” het op inligting verskyn wat ná die voorval beskikbaar was. Ons vra om verskoning vir die fout.
VANDERBIJLPARK – Die Barragepolisie ondersoek die verdrinking van ‘n eenjarige dogtertjie, Katherine van Tonder, by Mullerstuine-kleinhoewes nadat sy verlede week in ‘n watergevulde put op ‘n erf aangetref is.
Volgens sersant Sophia Gaboutlwelwe, kommunikasiebeampte van die Barrage SAPD, is ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
Voorlopige inligting dui daarop dat die dogtertjie buite gespeel het voordat sy ‘n kort rukkie later in ‘n klein watergevulde put, wat deur die oorloop van ‘n watertenk gevorm is, aangetref is.
“Daar word in hierdie stadium geen vuilspel vermoed nie. Die omstandighede rondom die voorval word steeds ondersoek en die geregtelike doodsondersoek sal die presiese oorsaak van die kind se dood bepaal,” het Gaboutlwelwe gesê.
Vaalweekblad het die familie om kommentaar genader. Die moeder het die voorval bevestig, maar die familie versoek dat hul privaatheid gedurende hierdie uiters moeilike tyd gerespekteer word en verkies om nie verder kommentaar te lewer nie.
ER24 het bevestig dat paramedici kort voor 12:00 op die toneel opgedaag het waar omstanders reeds kardiopulmonêre resussitasie op die dogtertjie toegepas het nadat sy uit die water gehaal is.
Volgens ER24 het paramedici gevorderde lewensondersteuningsbehandeling voortgesit, maar die dogtertjie is ongelukkig op die toneel dood verklaar nadat alle pogings om haar by te bring onsuksesvol was.
Die gedenkdiens vir die dogtertjie het op 30 Julie om 14:30 by die Ou Apostoliese Kerk in Eerstestraat, Nanescol, plaasgevind.
Vaalweekblad betuig sy opregte meegevoel met Katherine se ouers, familie en geliefdes in hierdie moeilike tyd.
