News

AfriForum neem Emfuleni hof toe oor rioolkrisis

AfriForum se dringende hofaansoek volg nadat Emfuleni versuim het om betyds op te tree om rioolstortings te beperk, infrastruktuur te herstel en 'n noodaksieplan voor te lê.

VEREENIGING – AfriForum het sy regstryd teen Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se voortslepende rioolkrisis verskerp deur dringende hofstukke aan nege respondente te beteken, waaronder die munisipaliteit, Vaal Corporation Water Utility en die Departement van Water en Sanitasie.

Die burgerregteorganisasie sê die dringende aansoek volg nadat die munisipaliteit versuim het om binne die sperdatum op ‘n formele eis, wat in Julie gestel is, te reageer. In dié eis is die munisipaliteit versoek om die rioolstortings te beperk, infrastruktuur te herstel en te bedryf, en ‘n noodaksieplan voor te lê.

Volgens AfriForum het die munisipaliteit eers ná betekening van die hofaansoek ‘n brief, gedateer 29 Julie, aan sy prokureurs gestuur.

In die brief erken die munisipaliteit onder meer dat die langdurige stilstand van rioolpompstasies tot riooloorlope gelei het wat die omgewing kon besoedel. Die munisipaliteit voer ook aan dat verskeie pompstasies, waaronder pompstasies 8 en 10 in Drie Riviere, op 21 Julie weer in werking gestel is.

AfriForum sê sy eie inspeksie by pompstasie 8 het egter getoon dat rou riool steeds uit ‘n mangat in ‘n nabygeleë stroom vloei. Die organisasie sê bewyse hiervan sal as deel van die hofverrigtinge voorgelê word.

“Die munisipaliteit hou vol dat die probleem onder beheer is, terwyl AfriForum se eie bewyse toon dat rou riool steeds vloei,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek.

Die organisasie plaas ook die kollig op Vaal Corporation Water Utility, wat gestig is om die streek se water- en sanitasiekrisis aan te pak. Volgens AfriForum moet dié entiteit nou aanspreeklik gehou word om sy mandaat uit te voer.

AfriForum het reeds drie strafregtelike klagtes oor die rioolkrisis aanhangig gemaak en sê hy sal die hof vra om die betrokke instellings te verplig om daadwerklik op te tree om die besoedeling te beëindig en die afvalwaterinfrastruktuur behoorlik te onderhou.

Die saak sal na verwagting op 1 September in die hof dien.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button