Reusagtige hyskraan trek aandag by River Square
Die ongewone gesig was vir etlike dae 'n groot besprekingspunt onder inkopiegangers en inwoners van Drie Riviere.
VEREENIGING – Inkopiegangers wat die afgelope paar dae River Square-winkelsentrum besoek het, kon kwalik die reusagtige hyskraan in die parkeerterrein voor die hoofingang miskyk.
Die hyskraan, wat groot nuuskierigheid onder besoekers gewek het, het tot heelwat bespiegeling gelei voordat die winkelsentrum vroeër vandeesweek op Facebook verduidelik het waarvoor dit gebruik is.
Volgens River Square was die hyskraan sowat 70 m hoog en het dit ‘n hefvermoë van tot 400 ton gehad.
Die hyskraan is ingespan om Woolworths se lugversorgingstelsel op te gradeer. Die ou lugversorgingseenhede is verwyder en nuwe water-energie-lugversorginseenheid is geïnstalleer.
Volgens die winkelsentrum neem dit ‘n volle dag om die hyskraan op te rig en nog ‘n dag om dit weer af te slaan.
Die ongewone gesig het vir etlike dae ‘n groot geselsiepunt onder besoekers geword.