Krokodil in die Vaalrivier!
Die SAPD Watervleuel en Randwater is reeds bewus van die buitengewone kuiergas.
VANDERBIJLPARK – Raar maar waar! Daar is ‘n krokodil van sowat 3 meter lank in die Vaalrivier gewaar.
Daar sal glo vandag reeds begin word om die krokodil op te spoor en na ‘n nuwe veilige en meer geskikte tuiste te probeer verskuif.
In die tussentyd, as ‘n verstandige voorsorgmaatreël, word dit sterk aanbeveel om nie in die Vaalrivier te swem, ski, ens. totdat die krokodil gevind, gevang en verskuif is nie.
Die krokodil is deur plaaslike inwoner Stephen Smith naby Marlbank gesien, wat daarin geslaag het om ‘n foto te neem.
Slender-snout krokodil
Volgens krokodilkenners lyk dit na ‘n Wes-Afrika slender-snouted krokodil.
Die spesie word bestempel as skugter, mediumgrootte roofdiere wat hoofsaaklik vis vreet en selde mense aanval.
Aanvalle is glo skaars omdat hul smal bekke gespesialiseer is om waterprooi te vang eerder as groot soogdiere (soos die mens).
Volwasse mannetjies kan ‘n lengte van 3 tot 4 m bereik, en op uitsondering kan groot mannetjies slender-snout krokodille sowat 4,5 m lank word. Hulle weeg gewoonlik tussen 125 en 325 kg.
Die meeste ernstige of dodelike krokodilaanvalle in Afrika behels die groter, uiters aggressiewe Nylkrokodil.

Kontak
Indien iemand die krokodil in die Vaalrivier gewaar, word hulle gevra om die Vanderbijlpark SAPD by 016-910-9014 of die nasionale Stop Misdaad-lyn te kontak, aangesien die Watervleuel nie ‘n direkte publieke lyn vir gespesialiseerde duikeenhede het nie.
