
Praat van die duiwel en jy trap op sy stert. Die ink in die uwe se vorige rubriek was skaars droog toe tref die papaja die dakwaaier. Ja almal praat daaroor.
Ja, jy het reg geraai… die reuse geveg tussen EG Jansen en Menlopark.
Die aas oor goeie rolmodelle op en langs die rugbyveld is skaars in die water gewerp toe byt die antwoord. Ons Afrikaners is tans ons eie grootste vyand.
Mens wil nie in fyn besonderhede ingaan en afleidings maak nie. Een ding is verseker dat daar streng opgetree moet word. Nie net teen die belhamels wat mekaar getakel het nie, maar teen die betrokke skole.
Ongelukkig is dit die wet van die bos, as die olifante baklei is dit die gras wat die seerste kry. Die boodskap moet duidelik wees. Sit op die pawiljoen en ondersteun jou kind.
Buiten die EG Jansen/Menlopark debakel het daar ook glo ‘n bakleiery by ‘n o7-sokkerwedstryd uitgebreek en in die Kaap word daar ook ‘n rassevoorval aangemeld. Moeder Aarde was nog nooit so deurmekaar soos nou nie.
Met die snelle ontwikkeling van Kunsmatige Intelligensie, tesame met sosio-ekonomiese druk, begin mense hulle doel in die lewe te verloor.
Spanning en druk lei tot frustrasie, wat op sy beurt in woede omskakel. Sporten padwoede is deesdae aan die toeneem. Die straf moet pas by die oortreding. In die geval was die handsak swaaiery nie op die veld nie, maar langs die veld. Dit was nie in die hitte van die stryd tussen spelers nie.
O, nee! Spelers, ondersteuners en ouers het mekaar getakel. Voorkoming is beter as genesing. Die bydraende faktore tot ‘n voorval van die omvang is legio en daar is verswarende en verligtende faktore wat in berekening gehou word. Die probleem is veel groter as wat ons dink.
Mense het basiese respek vir hulle medemens verloor. Daar word te veel van sportwelslae gemaak. Veral rugby. Elke skolewedstryd moet regstreeks uitgesaai word. Borge, ouers en leerlinge moet gelukkig gehou word. Dis loutere twak! Jy sal nooit sulke gedrag by vriendskaplike derbies tussen die land se top skole sien nie.
Net eer en trots is op die spel. Nie bekers nie. Dr. Pierre Edwards, oud-Springbokheelagter en voormalige hoof van die Afrikaans Hoër Seunsskool in Pretoria, het dit bewys toe sy skool na jare se oorheersing van die Beeldtrofee, onder leiding van dr. Carel Kriek, besluit het om aan die gesogte toernooi te onttrek en net vriendskaplike wedstryde te speel. Swak gedrag word bloot nie verdra nie.
‘n Zero-verdraagsaamheidsbeleid teen swak gedrag teenoor spelers, afrigters, toeskouers en skeidsregters moet ononderhandelbaar wees.
Dis al hoe dit stopgesit kan word, as die ouers en spelerskorps mekaar toerekeningsvatbaar en verantwoordbaar hou.
