Drie beroof bejaarde Meyerton-vrou in haar huis
Die aanval was een van twee huisrooftogte wat dieselfde middag in Meyerton aangemeld is.

MEYERTON – ’n 73-jarige vrou is Dinsdagmiddag in haar huis in Rothdene deur drie onbekende mans oorval en van besittings ter waarde van sowat R40 250 beroof.
Die voorval het op 8 September omstreeks 15:50 by ’n woning in Michaelstraat plaasgevind.
Volgens konst. Nompumelelo Zazini, woordvoerder van Meyerton-polisie, was Elna van Kaalsen in haar slaapkamer toe die drie mans haar oorrompel het.
Die rowers het haar na ’n ander vertrek geneem voordat hulle die huis omgedolwe het en verskeie waardevolle items gesteel het.
Hoewel Van Kaalsen na bewering verbaal gedreig is, is sy nie vasgebind nie. Sy het ook aan die polisie vertel dat die rowers nie gewapen was nie.
Die mans het vermoedelik toegang tot die erf verkry deur die hoofhek oop te forseer. Hulle het daarna om die huis beweeg en na bewering die sitkamer se diefwering en houtdeur met ’n onbekende voorwerp oopgebreek.
Die gesteelde items sluit ’n televisiestel, selfoon, juweliersware, ’n sak met sleutels en ’n handsak met ’n identiteitsdokument en ander kaarte in.
Die rowers het ná die voorval te voet van die toneel gevlug. Niemand is tydens die rooftog beseer nie.
Lede van Meyerton-polisie se sigbare polisiëringseenheid is ná ’n klagte na die toneel ontbied.
Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die huisroof.
Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om die verdagtes te identifiseer of op te spoor, kan Meyerton SAPD by 082 822 7680 kontak of inligting deur middel van die MySAPS-toepassing verskaf.
