Tiener vasgebind tydens huisroof in Meyerton
’n 17-jarige seun is vasgebind en op sy maag laat lê toe rowers op ’n huis in Meyerton toegeslaan het.
MEYERTON. – Die polisie ondersoek ’n huisroof nadat ’n 17-jarige seun Dinsdagmiddag, 8 September, by ’n woning in Meyerton Uitbreiding 4 oorval en vasgebind is.
Volgens ’n verklaring wat namens Meyerton-polisie se stasiebevelvoerder kol. Senzangakona Christopher Mohale uitgereik is, is polisielede omstreeks 15:00 na ’n woning in Van Boeschotenstraat ontbied.
Die tiener het volgens die polisie vroeër ’n motor buite die huis hoor toet en gaan kyk wat aangaan.
’n Man wat uit ’n wit motor geklim het, het hom vir aanwysings gevra. Toe die tiener nie kon help nie, het die man vir drinkwater gevra. Die tiener het vir hom water gebring, waarna die voertuig vertrek het.
Kort nadat hy weer die huis binnegegaan het, is hy glo in die kombuis deur twee ander mans oorval.
Volgens konst. Nompumelelo Zazini, ‘n woordvoerder vir die Meyerton-polisie, het die mans juweliersware geëis en sy selfoon gevat. Hulle het daarna sy hande en voete met drie dasse vasgebind en hom op sy maag laat lê.
Die rowers het die huis deursoek voordat hulle gevlug het.
Die tiener kon uiteindelik daarin slaag om homself los te maak en het na ’n buurman gehardloop, van waar sy ouers en die polisie ontbied is.
Volgens die polisie het die rowers vermoedelik toegang tot die erf verkry deur oor die hek te klim en daarna deur ’n ongeslote veiligheidsdeur die huis binne te gaan.
’n Skootrekenaar, Nokia-selfoon en bloeddrukmonitor met ’n gesamentlike waarde van sowat R15 000 is gesteel.
Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Die polisieondersoek duur voort.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, kan Meyerton-polisie by 082 822 7680 skakel of inligting via die MySAPS-toepassing deurgee.
