Wêreldkampioenskappe wink vir jong gimnas
Na jare se harde werk, toewyding en dissipline wink die Junior Trampolien Wêreldkampioenskappe vir die Gr. 8-leerder van Transvalia
VANDERBIJLPARK – Willem Pieterse (Gr. 8) het deur die jare al verskeie Suid-Afrikaanse trampolien-titels verower. Vroeër vanjaar het hy sy Junior Protea kleure verwerf en aan die Afrika kampioenskappe deelgeneem.

Die jong gimnas het gekwalifiseer om Suid-Afrika by die Trampolien Junior Wêreld Kampioenskappe te verteenwoordig. Die byeenkoms vind in November plaas in Nanjing, China. Willem is lid van Emfuleni Gymnastic en sy toewyding en passie vir die sport ken geen perke nie.
Vir Willem is hierdie kwalifikasie nie net ’n sportprestasie nie, maar die vervulling van ’n groot droom. Hy het lankal sy mikpunt gestel om Suid-Afrika by die junior wêreldkampioenskappe te verteenwoordig, en nou het daardie droom werklikheid geword.

Sy deelname beteken dat hy homself gaan meet teen die beste jong trampolien-gimnaste van regoor die wêreld, en dit bied hom ’n unieke geleentheid om sy vaardighede verder te slyp en internasionale ervaring op te doen.
Alhoewel Willem bittergraag sy droom wil verwesenlik, is finansies ʼn groot faktor. Die kostes vir hom om in China te gaan meeding beloop R60 000. Daar is derhalwe ʼn back-a-buddy rekening geopen om die jong gimnas te help. Enige donasies hoe groot of klein ook al sal waardeer word.
