Driehoek se slimkoppe ook skrywers
Altyd lekker as die Vaaldriehoek se jong sterre skitter en dié Hoekies blink uit in alles van wetenskap tot by skryfkuns.
VANDERBIJLPARK – Anja Nel en Inamari van Dyk is albei graad 8-leerders aan die Hoërskool Driehoek. Die twee se name duik gereeld op wanneer die skool op hul Facebookblad met die leerders se prestasies spog.

Inamari is ‘n top redenaar en het goud by die Wetenskap Expo verower, terwyl Anja skitter in die wiskunde-olimpiade. Die twee is ook gepubliseerde skrywers.
Anja het reeds in graad vyf haar eerste Engelse boek, Everfrost Hill: Through the Portal geskryf waarmee sy in graad ses die Young Publishers-kompetisie gewen het.
Onlangs het sy verneem dat een van haar Afrikaanse gedigte, Idiome wat kopkrap kos en kortverhaal, Die einde wat lei na ’n nuwe begin gekies is vir publikasie in INK Skryf in Afrikaans se 2026-bloemlesing, INKSPRAAK 7.
Inamari se gedig, Vryheidsvlerke en kortverhaal, Dromer is ook vir die INKSPRAAK-bloemlesing gekies. Anja en Inamari is ook na die gala-aand en bekendstelling van die boek genooi.
