Sowat 600 jong Valies by Godly Revolution
Wat begin het as 'n aand van lofprysing en samesang, het ontwikkel tot 'n kragtige beweging van eenheid, hoop en positiewe verandering. Die program was propvol hoogtepunte.
VEREENIGING – Sowat 600 jongmense het die Godly Revolution, wat vir die eerste keer in die Vaal gehou is, by die Delta Kerk bygewoon.
Bernard Posthumus (MC) het die aand met plofbare energie en die Godly Revolution-lied geopen.
This Kingdom Band het die eerste lof- en aanbiddingsessie hanteer en bekende hedendaagse lofliedere gelei wat die jeug uit volle bors saamgesing het.
Daarna het Koben Hofmeyr ‘n roerende getuienis gelewer van hoe die Here sy lewe oorgebou het ná sy rugbyongeluk.
Henrico en Anja het die jongmense verder geneem in diep aanbidding en stilword voor die Here.

Die stigter van Godly Revolution, Erich Posthumus, het daarna geleentheid geskep vir jongmense om hul saak met die Here reg te maak.
Die aand is afgesluit deur die King D Music-span met ‘n energieke sessie wat die saal laat dreun het.
“Die impak van hierdie byeenkoms was tasbaar. Ongeveer ‘n derde van die saal het hulle hande opgesteek en Jesus as hul persoonlike Verlosser en Saligmaker aangeneem.
“Nuwe vriendskappe is gesmee, eenheid en sinergie is tussen kerke bewerkstellig, en talle jongmense het met ‘n hernude passie en roeping huis toe gegaan – gereed om ‘n verskil te maak in hulle gesinne, skole en dorpe,” is Posthumus se terugvoer oor die aand.

Verskeie ouers het ook hul lof uitgespreek oor die jeuggeleentheid.
Die aand word beskryf as uit die boonste rakke. Die tegniese versorging, lof en aanbidding, en algehele produksie en musikale talent was wêreldklas en het die jongmense vir amper drie ure op hul voete gehad.
Wat is volgende?
“Godly Revolution se visie stop nie hier nie. Ons beplan meer byeenkomste in meer dorpe regoor die land, moontlik ‘n kamp of twee, en verskeie aanlyn geestelike groei-hulpbronne vir jongmense,” sê Posthumus.
Volg Godly Revolution op Facebook en Instagram, besoek www.godlyrevolution.co.za vir die nuutste inligting, of e-pos erich20@absamail.co.za vir navrae.
