News

Verhoordatum bepaal in saak oor Senekal se kwalifikasies

Ná verskeie hofverskynings is die weg nou gebaan vir die saak om na die verhoorstadium te beweeg.

VEREENIGING – Die strafsaak teen die voormalige VF Plus-raadslid Gerda Senekal sal na verwagting in November in die Vereeniging-streekhof verhoor word.

Senekal, voormalige VF Plus-raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het Donderdag, 10 September, weer in die Vereeniging-streekhof verskyn op ’n aanklag van beweerde bedrog wat met haar akademiese kwalifikasies verband hou.

Die saak is tot 23 November vir verhoor uitgestel.

Senekal het nog nie op die aanklag gepleit nie en die bewerings teen haar is nog nie in die hof getoets nie.

Die aanklag hou verband met bewerings dat Senekal valslik sou voorgehou het dat sy grade in politieke wetenskap en openbare administrasie verwerf het.

Die strafregtelike klagte is in 2023 by die polisie ingedien nadat die aangeleentheid reeds intern binne die VF Plus aangeroer is.

Senekal het op 15 Julie vanjaar die eerste keer in verband met die saak in die hof verskyn.

Tydens haar vorige verskyning op 27 Augustus is die saak vir blootlegging uitgestel nadat haar nuwe regsverteenwoordiger aangedui het dat Senekal sekere video’s en dokumente aan hom wou oorhandig.

Senekal het intussen as Emfuleni-raadslid bedank en ook haar leiersposisies en lidmaatskap van die VF Plus neergelê.

Die saak duur voort.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button