Georgina’s Dance Studio vier 25 jaar
Georgina's Dance Studio se Allure het alles van ballet tot Spaanse Dans vir die teatergangers gebied.
SASOLBURG – Georgina’s Dance Studio se 25ste bestaansjaar is Saterdag met styl gevier. Die dansstudio se jaarlikse vertoning by die Etienne Rousseau Teater was van top gehalte en die dansers het die gehoor van begin tot einde bekoor.

ALLURE was ‘n kombinasie van ballet, Spaanse dans, kontemporêre dans en Afrika dans. Van die studio se jongste dansers tot by die seniors het hul beste gegee.
Die Vaaldriehoek se eie klassieke kitaarspeler, Vincent van Schalkwyk se kitaarspel het betower. Die dansers is tuis op die verhoog en mens kan sien waarom Georgina Dance Studio se span elke jaar so goed doen by die wêreldkampioenskappe.

Dit was ‘n voorreg om Cebisile Banda, Chantelle Oosthuizen, Jana Jacobs en Suzenke Saayman weer op die verhoog te sien. Hulle het verlede jaar ‘n algehele vyfde plek by die wêreldkampioenskappe verower met hul dans Farruca in die Senior Small Group National and Folklore afdeling.
Cebisile is verlede jaar gekroon as wenner in die afdeling Junior National and Folklore Dance Solo en dit was duidelik hoekom sy die kroon dra.

Tydens die vertoning is daar ook afskeid geneem van die studio se vier graad 12’s, Abigail Burger, Anke Botes, Emma Uys en Elani Julius.