News

Moenie self die Vaal-krokodil probeer vang nie

Die Vaalrivier strek oor sowat 1 200km en dit kan tyd neem om die krokodil op te spoor en te vang.

VANDERBIJLPARK – Vaal-inwoners wat dit oorweeg om self die krokodil te probeer vang, word dringend gewaarsku dat dit onwettig is.

Die krokodil mag ook sommer voor die voet geskiet word nie – dis teen die wet!

“Ons kry tans baie navrae van inwoners wat wil help om die krokodil op te spoor en te vang. Hoewel ons die omgee waardeer, vereis dit ‘n spesiale permit.

“Sonder so ‘n permit is enige optrede teen die wet,” verduidelik Charles van der Merwe van Krokodil VDM.

Hy is tans die enigste persoon met ‘n geldige permit en amptelike toestemming om die vangprosedure te hanteer.

“Daar is spesifieke stappe wat gevolg moet word. As die publiek op eie houtjie begin optree, kan dit die hele proses ontwrig en uiters gevaarlike situasies skep.”

Charles van der Merwe (Krokodil VDM) en sy span het baie moeite gedoen en vier vanghokke na die Vaal gebring. Foto’s: Krokodil VDM

Charles, wat sy dienste en vanghokke van die begin af gratis beskikbaar gestel het, het reeds van meet af gewaarsku dat so ‘n poging maande kan neem. 

“Krokodille is uiters versigtig en kan vir lang tydperke sonder enige teken van lewe onder die radar bly,” verduidelik hy.

Die afgelope koue weer het die vangproses verder vertraag, maar met die ergste koue wat nou verby is, neem die vooruitsigte toe.

Daar is tans vier vanghokke aan weerskante van die rivier opgestel, op strategiese punte waar die krokodil vantevore opgemerk is. 

Die hokke word deurlopend via kameras gemonitor. Sodra die krokodil die lokaas vat, sal Charles en sy span ontplooi word om die dier veilig na sy nuwe tuiste te verskuif.

Alle nodige permitte vir die verskuiwing is reeds in plek. Die krokodil sal na die Emerald Resort & Casino se Animal World geneem word – ‘n uitkoms wat verhoed dat die dier van kant gemaak moet word.

“Ons verstaan dat almal die saak so gou moontlik afgehandel wil sien, maar dit moet op ‘n veilige en wettige manier gedoen word,” benadruk Charles.

Meld waarnemings aan

Die publiek word versoek om enige geloofwaardige waarnemings onmiddellik aan te meld.

Inligting soos die ligging, tyd en (indien moontlik) ‘n foto of video, kan op die Safety on Vaal WhatsApp-groep gedeel word.

Daar is tans vier vanghokke op strategiese punte aan weerskante van die Vaalrivier.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button