News

Teixeira skop DA se verkiesingsveldtog in Midvaal af

Die DA se burgemeesterskandidaat sê die party wil op die vordering van die afgelope vyf jaar voortbou.

MEYERTON. – Midvaal se uitvoerende burgemeester, rdl. Peter Teixeira, het Vrydag die DA se plakkaatveldtog vir die komende plaaslike regeringsverkiesing in Lochstraat in die Meyerton-sakekern van stapel gestuur.

Suid-Afrika se plaaslike regeringsverkiesing vind op Woensdag, 4 November, plaas.

Teixeira, wat weer die DA se burgemeesterskandidaat vir die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit is, het self ’n leer geklim om een van die party se verkiesingsplakkate aan te bring.

“Dit is baie belangrik dat ons Midvaal DA hou,” het hy tydens die bekendstelling gesê. Hy het inwoners aangemoedig om op 4 November hul kruisies agter die DA te trek.

Rdh Peter Teixeira besig om verkiesingsplakkate op te sit langs Lochstraat in Meyerton se sakekern. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Teixeira behoort inwoners die party te steun omdat Midvaal steeds funksioneer en dienslewering plaasvind.

“Ons het baie vordering gemaak. Dit is ’n dorp wat werk en dienslewering werk,” het hy gesê.

Hy het egter erken dat die munisipaliteit nie volmaak is nie en dat daar nog baie werk voorlê.

Ons is nie volmaak nie, maar ons het die politieke wil om ’n verskil te maak.

“Die verskil tussen ons en ander politieke partye is dat ons die politieke wil het om ’n verskil te maak.”

Teixeira dien sedert November 2021 as Midvaal se burgemeester en hoop om ná die verkiesing ’n tweede termyn aan die stuur van die munisipaliteit te begin.

“Ons het met baie planne begin wat nou begin realiseer. Daar is uiteraard nog baie meer wat gedurende die volgende vyf jaar gedoen moet word,” het hy gesê.

Rdl. Peter Teixeira saam met die DA se wykskandidate en partylede tydens die bekendstelling van die party se verkiesingsplakkaatveldtog in Meyerton. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button