Beseerde uil onder Monica se vlerk
Monica van Aswegen is welbekend in die omgewing vir haar toegewyde werk met beseerde wild.
SASOLBURG – Purrpaws for Life Rescue Centre ontvang daagliks oproepe om beseerde diere, meestal honde, te help. Hulle het egter onlangs ‘n heel buitengewone noodroep ontvang.
‘n Nonnetjie-uil (barn owl) met ‘n ernstige vlerkbesering is gevind. Die uil kon nie vlieg nie en het dringende hulp nodig gehad.
“Ek het hom versigtig opgelaai en veilig gehou totdat ek hom na ons eie ‘Voël-Engel’ in Vaalpark kon neem,” vertel Lindie Naudé van Purrpaws for Life. Sy het net die grootste lof vir dié “Engel”, Monica van Aswegen.

“Monica is ‘n merkwaardige vrou. Haar kennis en wysheid oor voëls en die natuur is ongelooflik, en dit is altyd ‘n voorreg om tyd saam met haar deur te bring,” sê Lindie.
Monica red alles van vlermuise en voëls tot eekhorings en selfs klein wildsbokke.
Sy verskaf die nodige versorging totdat die diere na ‘n veearts of wildrehabilitasiesentrum geneem kan word vir gespesialiseerde sorg.
“Haar passie is aansteeklik en haar sagte benadering met beseerde diere is iets besonders om te beleef. Ons in die Vaaldriehoek is bevoorreg om iemand soos sy in ons gemeenskap te hê,” sluit Lindie af.
