Zille draai in Drie Riviere
Helen Zille het vandeesweek Drie Riviere besoek as deel van die Demokratiese Alliansie (DA) se veldtog vir die komende plaaslike regeringsverkiesing.
DRIE RIVIERE – Die DA se burgemeesterskandidaat vir die Johannesburg-metroraad, Helen Zille, het Maandagaand ’n gemeenskapsvergadering in Drie Riviere bygewoon.
Sy het saam met die DA se Emfuleni-burgemeesterskandidaat, Kingsol Chabalala, en die party se kandidaat vir Wyk 1, Dalene Venter, by The Braai Wagon met inwoners vergader.
Volgens die uitnodiging was die byeenkoms daarop gemik om ’n oop gesprek te voer oor die DA se planne om betroubare basiese dienste te herstel en Emfuleni weer vir alle inwoners te laat werk.
Drie Riviere vorm deel van Wyk 1, wat as een van Emfuleni se belangrikste inkomstebronne beskou word. Miljoene rande word glo maandeliks deur munisipale tariewe en diensheffings uit die gebied gegenereer.
Inwoners kla egter reeds geruime tyd oor onder meer waterlekke, rioolprobleme en verslegtende paaie.
Zille is ’n voormalige DA-leier, burgemeester van Kaapstad en premier van die Wes-Kaap. Sy dien ook as voorsitter van die DA se Federale Raad.
Die plaaslike regeringsverkiesing vind op 4 November plaas.

