Man sterf by transformator in De Deur
’n Rugsak vol koperkabels is langs die noodlottige toneel gevind.
DE DEUR – ’n Man is Woensdagoggend dood nadat hy vermoedelik by ’n elektriese transformator in De Deur doodgeskok is.
Konst. Mampho Mahlomola, woordvoerder van die De Deur-polisie, sê die voorval het op 16 September plaasgevind.
Polisiebeamptes het ’n rugsak met koperkabels op die grond langs die transformatorpale aangetref. Dit is egter nog nie bevestig wat die man by die infrastruktuur gedoen het toe hy doodgeskok is nie.
Die De Deur-polisie ondersoek ’n geregtelike doodsondersoek, asook ’n saak van peutery met noodsaaklike infrastruktuur.
Die polisie het inwoners gewaarsku dat peutery met noodsaaklike infrastruktuur nie net ’n misdryf is nie, maar ook lewensgevaarlik kan wees.
Enigiemand met inligting oor misdaad kan hul naaste polisiestasie besoek of Stop Misdaad by 08600 10111 skakel. Anonieme wenke kan ook deur die MySAPS-toepassing ingedien word.
