AVT-atlete skitter by ASA-landloopkampioenskappe
Ses medaljes het die Vaaldriehoek se kleure op die nasionale podium laat pronk.
PRETORIA – Atletiek Vaaldriehoek se landloopatlete het ses individuele medaljes by ASA se landloopkampioenskappe ingepalm en onder die voorste tien spanne geëindig.
Atletiek Vaaldriehoek (AVT) se atlete het met een goue, drie silwer- en twee bronsmedaljes by die ASA-landloopkampioenskappe in Pretoria geskitter.
Die kampioenskappe is op 5 September by Curro Hazeldean High School aangebied en het van Suid-Afrika se beste landloopatlete gelok.
Selna van As het AVT se enigste goue medalje verower toe sy die junior vroue-afdeling van die gekombineerde 2 km-wedloop in ’n tyd van 6:51.81 gewen het. Sy het algeheel vyfde geëindig, maar was die eerste junior vrou oor die eindstreep.
Emma de Clercq het silwer in die meisies o.12-wedloop oor 3 km verower. Sy het die afstand in 10:51.84 voltooi.
Franna van der Westhuizen het ook ’n silwermedalje losgehardloop deur tweede in die seuns o.13-wedloop oor 4 km te eindig. Sy tyd was 13:26.75.
Emma se ousus, Miané de Clercq, het AVT se derde silwermedalje in die meisies o.14-wedloop oor 4 km verower. Sy het die eindstreep in 14:48.85 bereik.
Xanté Harris het ’n bronsmedalje in die meisies o.15-wedloop oor 4 km gewen met ’n tyd van 14:57.47, terwyl Thabo Mashigo brons in die mans 50–54-afdeling verower het. Mashigo se tyd was 29:00.73.
Tsepo Gavu het die podium in die senior mans se 10 km-wedloop net-net misgeloop. Hy het vierde geëindig in ’n tyd van 31:32.08.
AVT se laerskoolspan het algeheel negende uit 16 spanne geëindig. Die meisies- en seunsspanne het afsonderlik ook die negende plek behaal.
In die gekombineerde hoërskoolafdeling het AVT die tiende plek uit 18 spanne beklee. AVT was slegs 13 punte agter die negende geplaaste Atletiek Mpumalanga.