Hoekies wen leeskompetisie
Dis flink dink en vinnig met begrip lees, maar dié Hoekies het die toets met vlieënde vaandels geslaag.
VANDERBIJLPARK – Die ‘Reading Relay Competition’ se Distrik rondte is verby en Hoërskool Driehoek se leesspan is as die distrikswenners aangewys.
Die vyf graad 9’s het teen agt ander skole meegeding. Hierdie kompetisie vind jaarliks plaas om leerders meer te laat lees. Dit verg spanwerk, spoedlees en vinnige vingers.
Daar is vyf genres, van drama tot poësie, wat die leerders moet lees. Die dag van die kompetisie behels die eerste rondte spoedlees met ʼn begripstoets daarna.
Die individuele punte word dan bymekaargetel. Die volgende rondte behels dat die wenner in elke genre ʼn storie lees en dan word daar Kathoot gespeel op die fone waar bepaal word wie onthou die meeste, kan dit die beste oordra en die vinnigste antwoorde intik.
Al die leeswerk en toetse is in Engels.
Die Provinsiale Reading Relay vind Oktober in Johannesburg plaas. Die leesspan is Milan Loots, Lienka Strydom, Angelique Collet, Miller Potgieter en Cara van der Merwe.
