Bedelaar wil vir hom ’n nuwe toekoms skilder
Jassie Prins van Vereeniging is meer as net 'n bedelaar - hy droom daaroor om voltydse kunstenaar te wees en kort die gemeenskap se hulp.
VEREENIGING – Waar baie verbygangers bloot ’n man sien wat dag na dag by ’n verkeerslig staan, skuil daar ’n passievolle, moderne abstrakte kunstenaar wie se werke glo reeds die aandag van internasionale kopers getrek het.
Die 55-jarige Hermanus (Jassie) Prins is ‘n bekende gesig in Drie Riviere.
Dié voormalige Telkom-tegnikus en Amazon-outeur, het ’n amptelike BackaBuddy-veldtog geloods om hom te help om sy daaglikse bestaan op straat, na ‘n selfonderhoudende, kunsbesigheid te omskep.
Prins se pad tot hier by die verkeerslig naby die Rivier Square-winkelsentrum, waar hy soms tot nege ure per dag bedel, was besaai met uitdagings.
Tog het hy geweier om moed op te gee.
“Elke keer as ek ’n goeie finansiële dag by die verkeerskruising gehad het, het ek nie daardie geld vermors nie. Ek het dit in verf en ander benodighede belê om my ambag op te bou,” vertel Jassie.
Hoewel goeie dae by die verkeerslig deesdae skaars is en hy net deur die goedhartigheid van sy verhuurder ’n dak oor sy kop het, dra sy volharding reeds vrugte.
Oorsese sukses
Volgens Jassie oortref hy die gemiddelde statistieke vir kunstenaars.
“Uit 14 unieke skilderye wat ek sedert November 2025 voltooi het, is agt reeds verkoop. Dit sluit twee stukke in wat in Julie vanjaar op die bekende internasionale platform Saatchi Art aan oorsese kopers verkoop is,” vertel Jassie.
Vanweë hoë internasionale versendingskoste het hy egter net ’n breukdeel van die verkoopprys oorgehou, wat beteken dat die daaglikse stryd om oorleving voortduur.
Die verkoopprys was R6 000 per skildery, maar Jassie sê hy het in totaal sowat R3 000 vir albei stukke ontvang ná versendingskoste.

Om hierdie sirkel permanent te verbreek, mik Jassie nou na ’n finansieringsdoelwit van R350 000 op BackaBuddy.
Die kapitaal sal aangewend word vir noodsaaklike toerusting, skildermateriaal en ’n bakkie om sy kunswerke na premium-markte en uitstallings te vervoer.
“My statistieke toon dat my kuns vinniger verkoop as wat ek dit kan skep,” sê hy. “Hierdie veldtog is my geleentheid om ‘n nuwe hoofstuk in my lewe te begin en voltyds agter my esel in te skuif.”
Inwoners en ondersteuners wat sy pad na finansiële selfstandigheid wil ondersteun, kan sy BackaBuddy-veldtog aanlyn besoek en bydra tot sy droom.
Die skakel is: https://www.backabuddy.co.za/campaign/hermanus-erens-prins