Die Sasolburg Voortrekkers se trots
Die Sasolburg Voortrekkers is 'n bedrwyige Kommando wat aktief betrokke is by die gemeenskap. Die Gr 7's en Gr. 12's het toekennings ontvang.
SASOLBURG – Twee van die Sasolburg Voortrekkers se Verkenners, Erica Meyer en Simone Vorster, het die naweek hul Presidentsverkenner toekennings ontvang. Dit is die hoogste toekenning vir Voortrekkers in Graad 12.

Om hierdie toekenning te kan verwerf vereis baie harde werk, dissipline en toewyding. Kandidate moet aan streng vereistes voldoen.
Aan die begin van die jaar het hulle die teoretiese evaluering, bekend as Hoofleierswag, voltooi. Daarna is hulle uitgenooi na ‘n landswye nasionale afrondingskamp voordat hulle die Presidentsverkennertoekenning verwerf het.
Dis ’n simbool van uitnemendheid in leierskap, diensbaarheid, kultuur, en persoonlike ontwikkeling en is sedert 1967 ’n gesogte prestasie.
Dan het die Kommando se Gr. 7 ook hul Voorslagtoekennings ontvang. Die drie Drawwertjies en twee Penkoppe sal voortaan as Verkenners bekend staan. Hulle is Daniël Lombard, Juanika Kruger, Dorina Marais, Melande van der Westhuizen en Logan Steyn.
