News

Verlamde Downsindroom-tiener veg teen infeksie

Kegan Holl (18), die bekende verlamde seun met Downsindroom van Vanderbijlpark, het al talle uitdagings in sy jong lewe oorkom, maar moet nou weer 'n groot beproewing deurmaak.

VANDERBIJLPARK – Kegan het onlangs ‘n erge blaasinfeksie opgedoen, en sy ouers, Krystle en Anton Claassen (stiefpa), het gevrees dat dit tot sepsis kon lei.

Sy ouers het vinnig opgetree en selfs geld geleen om hom in die hospitaal op te laat neem. Die infeksie is moontlik deur ‘n bedseer veroorsaak.

“Ons wou hom nie na ‘n staatshospitaal stuur nie, want dit is waar hy die bedseer opgedoen het,” vertel Krystle.

Kegan wat op 31 Oktober verjaar en dan sy laaste jaar as tiener betree, is getraumatiseer as dit by hospitaalbesoeke kom.

“Hy is so bang ons los hom daar agter, ver van die huis af.”

Kegan Holl (18), verlamde Downsindroomlyer, van Vanderbijlpark. Foto: Verskaf

Behandeling

Gelukkig kon ‘n spesiale reëling getref word sodat Kegan, wat voltyds van ‘n suurstofmasjien afhanklik is, tuis deur ‘n verpleegster behandel kon word. Hy moes vyf dae lank op ‘n drup met antibiotika wees.

Sy laaste drup is verlede Sondag verwyder, en teen Maandag het sy uriene reeds infeksievry gelyk.

“Dit het gelyk of die infeksie opgeklaar het. Hy was weer sy ou self, vriendelik en het lekker gesels,” vertel Krystle.

Maar die vreugde was van korte duur. Oor die afgelope naweek was dit duidelik dat die infeksie steeds daar is, en Kegan sal dus nog ‘n reeks behandelinge moet kry.

Dit is egter nie die eerste keer dat Kegan ‘n erge blaasinfeksie ontwikkel het nie.

Daar is dus besluit dat hy vir die res van sy lewe voltyds ‘n kateter sal dra om verdere infeksies te help voorkom.

Die groot bedseer op sy boud, waarmee die gesin al sedert 2024 stoei, is ook nou amper heeltemal genees.

Daar is tans net ‘n klein gaatjie oor.

“Behalwe vir dié uitdaging is Kegan se gesondheid relatief goed, waarvoor ons ongelooflik dankbaar is,” sê Krystle.

Mediese onkoste

Die behandelings en medikasie beloop egter ‘n aansienlike bedrag, en die verpleegster moet ook vir haar dienste vergoed word.

Hoewel sy ouers hul bes probeer om al die mediese onkoste te dek, kan hulle dit eenvoudig nie alleen behartig nie.

Inwoners wat hul harte en beursies wil oopmaak om die gesin te ondersteun, word vriendelik gevra om uit te reik.

Enige hulp sal met diep dankbaarheid ontvang word.

Bankrekening
Mr K Holl
Capitec
Spaarrekening
2540521203

Kegan (hier heelwat jonger) het deur die loop van sy jong lewe baie uitdagings oorkom, maar was nog altyd ‘n gelukkige klein seuntjie wat baie liefde kry. Foto: Verskaf.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button