Beskerm jouself teen die son
Met die erge hitte wat tans ervaar word, word Valies aangemoedig om bedag te wees op sonveiligheid, aangesien ’n beduidende en kommerwekkende aantal gevalle van velkanker regoor SA aangemeld word.
Universal Healthcare sê ’n toename van 130% in die aantal lede met nie-melanoomvelkanker is oor ’n tydperk van agt jaar waargeneem.
Volgens dr. Odwa Mazwai, besturende direkteur van Universal Care, het Suid-Afrika die hoogste voorkoms van nie-melanoomvelkanker in Afrika.
Daar word voorspel dat die aantal nuwe gevalle van nie-melanoomvelkanker wat hier geïdentifiseer word, teen 2030 met 28% en teen 2040 met 73% sal toeneem.
Soorte velkankers
Nie-melanoomvelkanker verwys na basaalsel- en plaveiselkarsinome, wat makliker behandel kan word indien dit vroeg gediagnoseer word.
Melanoom is een van die tien algemeenste kankers wat in Suid-Afrika gediagnoseer word, volgens die Suid-Afrikaanse Kankerregister se data vir 2023.
Onder die son
Dit is daarom noodsaaklik om bewus te wees daarvan dat die risiko’s verbonde aan sonblootstelling gedurende alle seisoene voortduur, veral in die somer maande.
Dr. Mazwai voeg by dat Suid-Afrika ’n gemiddelde ultraviolet- (UV-)stralingsindeks van 10 het, wat as baie hoog beskou word, met besonder hoë vlakke in Desember en Januarie.
Die UV-stralingsindeks is ’n internasionale standaardmaatstaf wat die sterkte van die son se straling aandui.
Doeltreffende beskermingsmaatreëls is noodsaaklik in gebiede waar die gemiddelde indeks bo 8 is.
UVA-strale kan deur glas dring en is ook teenwoordig wanneer dit bewolk is. Dit dra by tot langtermynvelskade en velveroudering en kan die risiko van velkanker verhoog.
Soek beskerming
Verminder UV-blootstelling deur tussen 10:00 en 16:00 skaduwee te soek, sonbeddens te vermy, sonskerm met ’n geskikte sonbeskermingsfaktor (SBF) korrek aan te wend en UV-beskermende klere te dra wanneer jy in die son werk of aan ontspanningsaktiwiteite deelneem.
