News

Nersa erken onwettige goedkeuring van Emfuleni se kragtariewe

Die hof oorweeg moontlike vergoeding aan elektrisiteitsverbruikers wat te veel betaal het, maar dit is nog onseker of Emfuleni se inwoners geld sal terugkry.

VAALDRIEHOEK – Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het in die Pretoriase hooggeregshof erken dat sy goedkeuring van Emfuleni se elektrisiteitstariewe vir die 2025/26-boekjaar onwettig was.

Dit laat vrae ontstaan oor die bedrae wat inwoners en ondernemings in Vanderbijlpark en Vereeniging gedurende die betrokke boekjaar vir elektrisiteit betaal het, en of enige finansiële regstelling sal volg.

Emfuleni is een van vyf munisipaliteite waarvoor Nersa erken het dat sy tariefgoedkeurings onwettig was. Die ander vier is Johannesburg, Ekurhuleni, Nelson Mandelabaai en Madibeng.

Die betrokke tariewe was van 1 Julie 2025 tot 30 Junie 2026 van krag.

Volgens berigte deur Moneyweb en Maroela Media het die munisipaliteite se tariefaansoeke ernstige berekeningsfoute bevat. Nersa het die aansoeke goedgekeur sonder om die syfers behoorlik na te gaan.

Groot elektrisiteitsverbruikers het die foute in hofstukke uitgewys, waarna Nersa erken het dat sy goedkeurings nie verdedigbaar was nie.

Die hof oorweeg nou hoe verbruikers wat moontlik te veel betaal het, vergoed kan word.

Regter Ronel Tolmay het Maandag 9 November haar kommer uitgespreek oor die herhaalde hofaansoeke teen Nersa en die versuim om vorige hofbevele behoorlik uit te voer.

“Die regsgeleerdes maak geld en die belastingbetalers betaal daarvoor. Daar is elke paar weke nog so ’n hofsaak teen Nersa. Die regsposisie is duidelik, maar hoe help dit enigiemand?” het Tolmay volgens Maroela Media gevra.

“Dit kan nie onbepaald so aangaan nie.”

Tolmay het die moontlikheid geopper dat ’n onafhanklike deskundige aangestel kan word om vas te stel hoeveel geld moontlik te veel van verbruikers verhaal is. Die geraakte verbruikers kan dan moontlik krediete op hul elektrisiteitsrekeninge ontvang.

Sy het ook strenger hoftoesig oor die uitvoering van ’n toekomstige bevel as ’n moontlikheid genoem.

Die regspanne is gevra om voorstelle in te dien oor hoe die probleem opgelos kan word.

Daar bestaan egter nog meningsverskille oor wie vir moontlike regstellings behoort te kwalifiseer.

Mpact, een van die ondernemings wat Ekurhuleni se tariewe betwis, het voorgestel dat regstellings beperk word tot die partye wat die hof genader het.

Nersa het daarteen aangevoer dat dit onbillik teenoor ander verbruikers sou wees en dat enige regstelling alle elektrisiteitsverbruikers in die betrokke munisipaliteite behoort te bevoordeel.

Die reguleerder het ook voorgestel dat tariefregstellings oor toekomstige jare ingefaseer kan word om skielike prysveranderings te voorkom.

Die jongste hofgeding volg op vorige sake waarin Nersa se goedkeuring van munisipale elektrisiteitstariewe ongeldig verklaar is.

In een van dié sake is tariefbepalings vir Johannesburg, Ekurhuleni, Madibeng en Msunduzi na Nersa terugverwys sodat die reguleerder die tariewe opnuut kon vasstel. Volgens die jongste hofverslaggewing het Nersa egter versuim om die hof se sperdatum van 30 Junie na te kom.

Wat Emfuleni betref, is dit nog nie bekend presies watter berekeningsfoute in die munisipaliteit se tariefaansoek voorgekom het of hoeveel geld moontlik te veel van verbruikers verhaal is nie.

Daar is ook nog geen bevestiging dat huishoudings of ondernemings in Emfuleni op terugbetalings geregtig is nie.

Die hof moet nog beslis watter regstellings aangebring moet word en hoe enige finansiële vergoeding aan geraakte verbruikers hanteer sal word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button