Help om ’n boksie van hoop vir ’n bejaarde te pak
Helpende Hand se Meyerton-tak wil 100 bejaardes se Kersfees opkikker en vra die gemeenskap om ’n boksie te pak of benodigdhede te skenk.
MEYERTON – ’n Boksie met versorgingsprodukte en iets lekkers kan dié Kersfees vir ’n bejaarde ’n besondere geskenk wees.
Solidariteit Helpende Hand se Meyerton-tak vra die gemeenskap om sy Boksies van Hoop-projek te ondersteun.
Die doelwit is om 100 boksies in te samel en só vir 100 bejaardes ’n bietjie Kersvreugde te bring.
Volgens Johan Viljoen, die tak se waarnemende voorsitter, is die publiek se betrokkenheid nodig om die projek te laat slaag.
Die beoogde ontvangers sluit bejaardes by Elsmedsorg en ouetehuise in die Randvaal-omgewing in.
Inwoners kan ’n volledige boksie pak of van die benodigdhede skenk wat die tak dan kan verpak.
Ondernemings en ander skenkers kan ook help deur items in groot maat te voorsien.
Die benodigdhede is tandepasta, tandeborsels, sjampoe, lyfseep, lyfroom, waslappe, aanroldeodorant en lekker eetgoedjies.
Viljoen sê die tak kan boksies aan mense verskaf wat self een wil vul. Mense wat slegs enkele items kan bydra, se skenkings is ook welkom en kan saam met ander bydraes verpak word.
Die sperdatum vir bydraes is 27 November.
Enigiemand wat wil help of reëlings oor boksies en die oorhandiging van skenkings wil tref, kan Mariette van de Werken by 071 548 8013 of Adri by 073 028 8527 kontak.