Baba Azaria veg moedig voort
Sy is met 'n gaatjie in haar hart gebore, maar deur gebed en genade is die mediesespan tevrede met haar vordering.
VANDERBIJLPARK – Azaria Leah Meyer is op 9 November gebore. Sy het 2.36 kg geweeg en is 48 cm lank. Anders as ander babas gaan sy nie gou ontslaan word nie.
Sy sal ‘n groot hartoperasie ondergaan sodra sy 2.5 kg weeg. Soos Vaalweekblad in September berig het, is Azaria met truncus arteriosus gediagnoseer terwyl haar ma, Jeanré, swanger was.

Dit beteken dat haar hart net een groot bloedvat het waar daar normaalweg twee moet wees, en dat daar ’n gaatjie tussen die twee onderste hartkamers is. Almal se senuwees was klaar teen die tyd wat sy met ‘n keisersnee gebore is.
Maandag het haar ma vir gebed gevra, aangesien Azaria op suurstof was. Teen Dinsdagmiddag was daar beter nuus. Azaria het haar eerste voeding gekry en die dokters reken hulle sal binne ‘n week tot twee weke kan opereer en nie wag tot drie weke soos aanvanklik voorspel is nie.
Dinsdagaand het Jeanré die goeie nuus gedeel: “Sy haal op haar eie asem, die suurstof pypies is nog connected vir in case sy vergeet om asem te haal, dan skop dit vinnig in, maar verder haal sy self asem.”

Teen Donderdagoggend kon Azaria al 25 ml melk op ‘n slag kry. Sy het met 5 ml begin toe sy ‘n dag oud was. Sy is heeltemal van die suurstof afgehaal en die dokters is baie tevrede met haar vordering. Haar ouers vra dat mense sal aanhou bid vir die kleinding sodat sy so gou moontlik huis toe kan gaan.
Die geregistreerde nie-winsgewende organisasie, UBEE4ME, gaan steeds voort met hul fondsinsameling om die Meyers met hul mediese onkostes te help. Nicoleen Harmse sê hulle het met die kaartjieverkope vir hul gelukkige trekking kompetisie en ander donasies reeds oor die R75 000 van die beoogde R100 000 ingesamel. Die pryswenners het reeds hul geskenke ontvang.
Vir meer inligting oor die fondsinsameling, kontak vir Nicoleen by 084 598 1722. Rekeningnaam: U BEE 4 ME NPC, Rekeningnommer: 1234 826 054, Bank: Nedbank, Verwysing: AZARIA
