Local newsNews

Amper blind en stemloos na chemoterapie

Franz Geldenhuys sukkel met sy gesondheid nadat chemoterapie hom met vele newe-effekte gelaat het.

VANDERBIJLPARK – Die immergewilde Franz Geldenhuys het die afgelope jaar harde pad geloop. Hy is bekend as sanger, klavierspeler, orrel maestro, onderwyser en koorafrigter. Einde 2025 is hy met fase 4-limfklierkanker gediagnoseer en moes maande se chemoterapie ondergaan.

Twee maande gelede het hy vir ‘n laaste maal deur die chemoterapie-hel gegaan. Die goeie nuus het daarna gekom, die kanker is in remissie. Ongelukkig het die chemoterapie skade aangerig.

Tans is hy blind in sy regteroog, sy stembande is beskadig en hy loop moeilik. “Dit gaan rof. Die maande se chemoterapie het my ook baie moeg gelaat,” erken hy.

Sy hare begin weer uitgroei en hy is dankbaar die kanker is in remissie. “Die afgelope jaar het my geduld geleer. Ek is nou rustiger,” vertel hy. Sy stem is baie hees en hy kan glad nie sing nie.

“Ek mis my musiek. Ek sukkel selfs om klavier te speel, my koördinasie is heeltemal uit.” Frans sê hy sukkel om diepte en afstand te skat met die dat hy net uit een oog kan sien. Gelukkig is sy eggenoot, Edward Britz, daar om hom oral heen te neem, want op die stadium kan hy nie bestuur nie.

“Ek is so dankbaar vir Edward. Ek weet nie wat ek sonder hom sou doen nie.” Hy moet konsentreer om die glas lemoensap raak te vat en weer neer te sit. Hy sug. “Selfs met my bril op is jy net ‘n blur.”

Die dokters het hom verseker dat sy stem weer beter sal word of dit ooit weer sal wees soos voor die chemoterapie, kan niemand sê nie. Daar is hoop vir sy oë. Hy moet drie keer vir inspuitings direk in sy oë gaan om die bloeding agter sy oog te stop.

Die linkeroog word ook gedoen as voorkoming. Dan is daar ook spesiale oogdruppels wat hy moet gebruik. Die herstelproses kan tot ses maande neem. Die enigste staatshospitaal wat hom daarmee kan help se waglys is baie lank en hoe langer daar gewag word, hoe groter word die skade.

Hy word nou deur ‘n privaat oogspesialis behandel en het alreeds die eerste inspuitings gehad. Die volgende afspraak is op 25 November.

Franz het nie ‘n mediese fonds nie. Die behandeling vir sy oë beloop R4 600 per keer en hy het ook heelwat ander uitgawes wat met sy herstelproses gepaard gaan.

“Ek is dankbaar ek het nog my werk. Die skool is my goedgesind en baie genadig. Hulle verstaan waardeur ek gaan,” vertel hy. Hy het ook die afgelope jaar so ver as moontlik sy sewe kore bly afrig.

“Ek kan nie sonder musiek nie. Selfs nou, terwyl ek so sukkel met die nagevolge van die chemoterapie, is ek betrokke by NGK Kollegepark se Kersprogram vir 22 November. Dis vir my ‘n stryd om by ‘n koor te kom, maar as ek eers daar is, lig die musiek my op. Dan voel ek goed as ek klaar is.”

Sy geloof is sterk. Sy wil om heeltemal gesond te word nog sterker. Franz is moeg, hees en sy sig is uiters swak, maar Franz is Franz en hierdie is nie die eerste terugslag van sy lewe nie. Hy sal weer opstaan en sy stem sal weer opklink.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button