News

Groot daling in Sedibeng se MIV-behandelingsyfers

Dr. Nombuso Madonsela waarsku dat onderbrekings in MIV-behandeling ernstige gesondheidsgevolge kan hê, terwyl personeeltekorte en minder ondersteuningsdienste dit moeiliker maak om pasiënte in behandeling te hou.

VANDERBIJLPARK. – Die aantal MIV-pasiënte wat volgens beskikbare syfers antiretrovirale behandeling in Sedibeng ontvang, is nou byna 28% laer as in Maart 2025. Dit kom te midde van Amerikaanse befondsingsbesnoeiings wat ook MIV-ondersteuningsdienste in die Vaaldriehoek geraak het.

Volgens dr. Nombuso Madonsela, landdirekteur van die AIDS Healthcare Foundation (AHF) in Suid-Afrika, ontvang tans 96 868 mense in Sedibeng antiretrovirale behandeling, teenoor die 134 489 wat in Maart 2025 aangeteken is.

Die verskil is 37 621 pasiënte. Omdat dit nie bevestig kon word of die twee syfers op dieselfde grondslag bereken is nie, kan daar nie met sekerheid gesê word hoeveel pasiënte hul behandeling gestaak het nie.

Van die 96 868 pasiënte wat tans behandeling ontvang, is 75 224 in Emfuleni, 13 096 in Lesedi en 8 548 in Midvaal.

Madonsela het in antwoord op skriftelike navrae van Vaalweekblad bevestig dat die besnoeiings aan die Amerikaanse president se noodplan vir vigsverligting (PEPFAR) ook MIV-dienste in Sedibeng geraak het.

Volgens haar het die beëindiging van sekere programme wat deur PEPFAR gefinansier is, tot personeeltekorte, minder gemeenskapsuitreikprogramme en ‘n afname in ondersteuningsdienste vir pasiënte gelei.

Dit het dit ook moeiliker gemaak om pasiënte op te spoor wat nie hul kliniekafsprake nakom nie, terwyl wagtye by gesondheidsgeriewe toegeneem het.

Hoewel staatsklinieke steeds antiretrovirale behandeling verskaf, plaas die verlies aan eksterne ondersteuning bykomende druk op openbare gesondheidsdienste.

Madonsela sê die besnoeiings het landwyd ook MIV-toetsing, voorkomingsprogramme, berading en ondersteuning aan pasiënte geraak.

Kwesbare groepe, waaronder sekswerkers, jong vroue en adolessente, word besonder swaar getref omdat baie van hulle op gemeenskapsorganisasies vir MIV-verwante dienste staatmaak.

Sy kon egter nie bevestig of die aantal pasiënte wat hul behandeling onderbreek, sedert die Amerikaanse befondsingsbesnoeiings toegeneem het nie.

Volgens Madonsela is daar verskeie redes waarom MIV-pasiënte ophou om hul medikasie te gebruik.

Een daarvan is behandelingsmoegheid, waar pasiënte ná jare moedeloos raak oor die daaglikse gebruik van medikasie en gereelde kliniekbesoeke.

Werkloosheid, geloofsoortuigings en mense wat gereeld vir werk verhuis, kan ook daartoe bydra dat behandeling onderbreek word.

Ander struikelblokke sluit vervoerkoste, die newe-effekte van medikasie, diskriminasie en die stigma rondom MIV in.

Madonsela waarsku dat die onderbreking van antiretrovirale behandeling ernstige gesondheidsgevolge kan hê.

Wanneer pasiënte hul medikasie staak, kan die hoeveelheid virus in hul bloed toeneem en hul CD4-seltelling daal. Dit verswak die immuunstelsel en verhoog die risiko van opportunistiese infeksies soos tuberkulose en longontsteking.

Behandelingsonderbrekings kan ook tot middelweerstandigheid lei, wat toekomstige behandeling bemoeilik.

In ernstige gevalle kan pasiënte gevorderde MIV-siekte ontwikkel, wat noodlottig kan wees. By swanger vroue kan die onderbreking van behandeling ook die risiko verhoog dat die virus aan hul babas oorgedra word.

Madonsela sê die Departement van Gesondheid het verskeie maatreëls ingestel om pasiënte te help om met behandeling voort te gaan.

Dit sluit telefoniese opvolgwerk, huisbesoeke deur gemeenskapsgesondheidswerkers, berading en programme in om pasiënte wat behandeling gestaak het, weer by gesondheidsdienste te betrek.

Pasiënte wat daarvoor kwalifiseer, kan ook medikasie vir langer tydperke ontvang, terwyl alternatiewe afhaalpunte die behoefte aan gereelde kliniekbesoeke verminder.

Met Wêreldvigsdag wat op 1 Desember herdenk word, beklemtoon Madonsela die belangrikheid daarvan dat pasiënte voortdurend toegang tot behandeling en ondersteuning moet hê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button