News

Sasol gee duidelikheid oor dreigende gastekort in 2028

Sasol sê aardgasvoorsiening aan sy Sasolburg-aanleg sal ná 2028 voortgaan, maar waarsku dat duurder vervangingsgas produksiekoste kan verhoog.

SASOLBURG. – Sasol verwag nie dat die dreigende tekort aan aardgas in Suid-Afrika teen 2028 tot werksverliese of produksieonderbrekings by sy Sasolburg-aanleg sal lei nie. Die maatskappy waarsku egter dat vervangingsgas waarskynlik duurder sal wees, wat produksiekoste kan opstoot.

Dit blyk uit Sasol se antwoorde op navrae van Vaalweekblad oor die moontlike gevolge van die verwagte afname in aardgasvoorrade uit Mosambiek.

Volgens Sasol sal aardgasproduksie uit die Pande- en Temane-gasvelde na verwagting tot die einde van sy 2028-boekjaar op ‘n stabiele vlak bly, waarna produksie sal begin afneem.

Die maatskappy beklemtoon egter dat sy bestaande gasvoorsieningsooreenkomste nie in 2028 tot ‘n einde kom nie.

“Aardgas sal steeds ná 2028 aan Sasolburg se chemiese bedrywighede voorsien word,” het Sasol in sy skriftelike antwoord bevestig.

Aardgas is ‘n belangrike grondstof en energiebron vir Sasol se bedrywighede, veral vir die vervaardiging van was, ammoniak en metanol.

Nie alle produksieprosesse by Sasolburg is egter van aardgas afhanklik nie. Sommige aanlegte ontvang ook grondstowwe vanaf Sasol se Secunda-bedrywighede.

Om die verwagte afname in gasvoorrade te hanteer, het Sasol ‘n tydelike oplossing ontwikkel waarvolgens metaanryke gas vanaf Secunda tussen Julie 2028 en Junie 2030 aan industriële kliënte voorsien kan word.

Die tegniese uitvoerbaarheid van dié plan is reeds bevestig, maar die implementering daarvan hang nog van die nodige goedkeuring vir gaspryse af.

Sasol voer tans gesprekke met die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) en kliënte oor toekomstige gasbehoeftes en pryse.

Die maatskappy erken dat vervangingsgas waarskynlik duurder sal wees.

“Vervangingsgas sal na verwagting duurder wees, wat ‘n uitwerking op produksiekoste sal hê, maar Sasol ondersoek maniere om dié impak te beperk,” lui die antwoord.

Die uiteindelike koste sal afhang van die bron van die gas, infrastruktuur, marktoestande en regulatoriese vereistes.

Sasol kon nog nie aandui hoeveel pryse moontlik sal styg nie.

Wat werksekerheid betref, sê die maatskappy dat ongeveer 550 mense in sy aardgaswaardeketting werk, maar dat hy nie in 2028 ‘n impak op dié werknemers verwag nie.

Sasol voorsien ook nie tans spesifieke werksverliese of produksieonderbrekings by Sasolburg as gevolg van die verwagte gasbeperking nie.

Die maatskappy erken wel dat onvoldoende gasvoorrade ernstige gevolge vir industriële produksie, beleggings en die mededingendheid van gasafhanklike ondernemings kan inhou.

Vir die langer termyn ondersoek Sasol verskeie moontlikhede, waaronder die invoer van vloeibare aardgas (LNG), nuwe gasbronne in Suid-Afrika en die streek, asook die ontwikkeling van gepaardgaande infrastruktuur.

Geen finale beleggingsbesluite oor LNG-terminale, bergingsgeriewe of verwante infrastruktuur is egter reeds geneem nie.

Sasol sê sy doel is om voldoende gasvoorrade te verseker voordat die afname in Mosambiek se bestaande gasproduksie ‘n kritieke probleem word.

Die maatskappy voorsien daarom tans ook geen spesifieke negatiewe gevolge vir werknemers, kontrakteurs of omliggende ondernemings in Sasolburg wat uitsluitlik aan die verwagte gastekort toegeskryf kan word nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button