Slaggereed vir ’n veiliger feestyd in Sedibeng
Die feesseisoen is net om die draai, en die SAPD tref reeds spesiale voorsorgmaatreëls om misdaad hok te slaan.
Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gister, Donderdag 12 November, saam met Gauteng Verkeer en ander wetstoepassingsagentskappe aangetree voor die aanvang van die Veiliger Feestyd-operasie Shanela II-aktiwiteite in die Sedibeng-distrik.
Die paradebevelvoerder, kaptein Mthimkhulu, het die parade met gebed geopen, gevolg deur die voorlees van die Gedragskode.
Tydens sy toespraak het kolonel Dube alle lede verwelkom en ’n boodskap van waardering oorgedra namens die Sedibeng-distrikskommissaris, generaal-majoor Nkhensani Mukwevho, vir hul werk tydens verlede week se verkiesing.
Hy het beklemtoon dat hul gesamentlike pogings eenheid onder wetstoepassingsagentskappe getoon het.
Kolonel Dube het lede aangemoedig om ’n betekenisvolle impak te maak terwyl hulle hul pligte uitvoer.
Lede is daarna verdeel in spanne wat verantwoordelik is vir padblokkades, lokvaloperasies en stop-en-deursoek-aktiwiteite.

