News

Veediewe slaan met 42 skape op vlug en verongeluk

Altesaam 42 Dorper-skape ter waarde van R105 000 is teruggevind nadat vermeende veediewe met ’n gesteelde bakkie op die R54 verongeluk het.

BARRAGE. – ’n Veediefstaltog het in die vroeë oggendure in ’n ongeluk geëindig toe vermeende veediewe beheer oor ’n gesteelde bakkie verloor het terwyl hulle van die polisie en gemeenskapspatrolleerders probeer vlug het.

Die voorval het omstreeks 03:00 begin toe die Barrage-polisie ’n berig ontvang het oor ’n verdagte wit Isuzu-bakkie sonder nommerplate wat op die R54 gery het.

Volgens die stasiebevelvoerder, luitenant-kolonel Johann Greyling, is sersant Ramovha en konstabel Ramasunya deur die Belrex-beheerkamer van die verdagte voertuig in kennis gestel en het hulle onmiddellik gereageer.

Die bakkie is vroeër gesteel en daarna gebruik om skape op ’n kleinhoewe in Overvaal te steel. Die eienaar van die bakkie is van die diefstal in kennis gestel en het saam met sy werker in ’n ander voertuig na die gesteelde bakkie gaan soek.

Terwyl hulle in die rigting gery het waar die bakkie laas opgemerk is, het hulle die voertuig, wat met skape gelaai was, teëgekom.

“Ons het onmiddellik omgedraai toe ons die voertuig sien. Die insittendes het probeer wegkom, maar beheer verloor nadat hulle teen die veiligheidsreling langs die pad gebots het,” het die eienaar vertel.

Die polisie en gemeenskapspatrolleerders was reeds op die verdagtes se spoor. Nadat die bakkie verongeluk het, het die verdagtes na bewering uitgespring en in die donker verdwyn.

Bykomende polisiebeamptes, onder wie adjudant-offisier Jonck en adjudant-offisier Landman, is ontbied om te help. Hulle was egter reeds besig met die terugvind van vier gesteelde skape in ’n afsonderlike veediefstalsaak in Vereeniging.

Altesaam 42 Dorper-skape met ’n geraamde waarde van R105 000 is tydens die operasie teruggevind.

Die skape, wat met rooi en geel oorplaatjies gemerk was, is om 06:15 deur hul regmatige eienaar van Lindequesdrif aan die oorplaatjies uitgeken.

Die polisie het later na die toneel teruggekeer nadat verdere ondersoek aan die lig gebring het dat nog 10 skape vermis word.

Greyling het die polisielede en gemeenskapspatrolleerders vir hul vinnige optrede geloof. Volgens hom het hul samewerking ’n belangrike rol gespeel om die gesteelde vee terug te vind.

Hy het boere en ander veeeienaars aangemoedig om hul diere behoorlik te merk sodat die polisie gesteelde vee makliker kan opspoor en aan die regmatige eienaars kan terugbesorg.

Die verdagtes was teen druktyd nog op vrye voet.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button