News

DA vrees chaos by Emfuleni se eerste raadsvergadering

Veiligheid van raadslede en gaste in die kollig.

VANDERBIJLPARK – Vrese oor moontlike ontwrigting het ontstaan voor Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se eerste raadsvergadering, met die Demokratiese Alliansie (DA) wat dringende veiligheidsmaatreëls versoek om raadslede en gaste te beskerm.

In ’n brief gedateer 17 November in Vaalweekblad se besit spreek die DA kommer uit oor ’n beweerde dreigement om die eerste raadsvergadering, wat vir 23 November in die Vereenigingse stadsaal geskeduleer is, te ontwrig.

Die brief is aan die kantoor van die munisipale bestuurder gerig en doen ’n beroep op die munisipaliteit om die veiligheid van raadslede, amptenare en gaste wat na verwagting die verrigtinge sal bywoon, voorop te stel.

Die DA wil hê die munisipale bestuurder moet, as die munisipaliteit se rekenpligtige beampte, dringend met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander wetstoepassingsagentskappe skakel om te verseker dat die vergadering sonder ontwrigting verloop.

Die party het ook gevra dat behoorlike toegangsbeheer en veiligheidsreëlings ingestel word en gewaarsku dat die veiligheid van almal wat die geskiedkundige sitting bywoon, gewaarborg moet word.

“Die DA bly verbind tot die vreedsame, wettige en ordelike samestelling van die raad in ooreenstemming met die Wet op Munisipale Strukture,” lui ’n uitreksel van die brief.

Die party het verder bevestiging versoek van die veiligheidsreëlings wat ingestel sal word.

Die kommer oor veiligheid volg ná ’n vorige dramatiese voorval by die naburige Sedibeng-distriksmunisipaliteit, waar ’n raadsitting in Februarie 2025 in chaos gedompel is nadat vermoedelik traangas of pepersproei binne die raadsaal vrygestel is.

Die voorval het op 12 Februarie plaasgevind toe raadslede vergader het vir verrigtinge wat verband gehou het met die verkiesing van ’n nuwe uitvoerende burgemeester ná ’n mosie van wantroue teen die destydse burgemeester, Lerato Maloka.

Volgens berigte destyds het raadslede begin hoes en na die uitgange gestorm nadat hulle die middel in die raadsaal opgemerk het.

’n DA-raadslid het na bewering tydens die oproer inmekaargesak en mediese behandeling benodig.

Die sitting is uiteindelik afgelas, terwyl ’n saak by die Vereeniging-polisiestasie vir ondersoek geopen is.

Maloka is daarna op 18 Februarie herkies as burgemeester nadat sy die DA-raadslid Prudence Hlanyane met 25 stemme teenoor 24 verslaan het.

Met Emfuleni se eerste raadsitting wat nader kom, lyk dit of die DA vasbeslote is om ’n herhaling van die tonele wat die naburige distriksmunisipaliteit geruk het, te voorkom.

Teen druktyd het die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) nog nie op navrae wat aan die munisipaliteit gerig is, gereageer nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button